’n Huiseienaar is Donderdagaand ongeveer 23:00 in Moyeni Rylaan, Sunset Valley in Hillcrest, wes van Durban, in ’n beweerde roofvoorval doodgeskiet.
Volgens gerugte het die man en ‘n ander persoon pas teruggekeer huistoe toe die tragedie plaasgevind het. Volgens ’n voorvalverslag, is hulle deur drie onbekende verdagtes in ’n lokval oorval wat geld geëis het.
Kolonel Robert Netshiunda, woordvoerder van die KZN-polisie, sê die polisie in Hillcrest ondersoek sake van huisroof en moord na ‘n voorval waarin die 31-jarige man na bewering doodgeskiet is tydens ‘n roofaanval.
“Daar word berig dat die egpaar by hul blyplek was toe hulle deur drie onbekende gewapende mans aangerand is.
“Die verdagtes het glo die slagoffers van hul selfone en ander elektroniese toestelle beroof.
“Die 31-jarige het op die toneel aan sy beserings beswyk terwyl die ander slagoffer ongedeerd daarvan afgekom het.”
Daar word beweer dat een van die gewapende verdagtes die man in die bors geskiet het.
Die rowers het weggehardloop met ‘n Samsung-televisie en ‘n Samsung S24-selfoon.
Volgens die sekuriteitsmaatskappy Ensure Security het hulle gereageer op berigte van ’n skietvoorval in die Hillcrest-omgewing.
“ ’n Huiseienaar is doodgeskiet nadat drie gewapende verdagtes sy huis in die Hillcrest-omgewing gedwing het,” het Kyle van Reenen, woordvoerder, gesê.
“Berigte van die toneel is dat die man gekonfronteer is deur die gewapende verdagtes wat op hom losgebrand het, voordat hulle van die toneel gevlug het.”
Hy het gesê die man het noodlottige beserings opgedoen en is met paramedici se aankoms dood verklaar.
