Nomathamsanqa Ayeza Shabane (23) is deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (bekend as die Valke) in hegtenis geneem vir bedrieglike banktransaksies.
Luitenant-kolonel Avele Fumba, woordvoerder van die Oos-Kaapse Valke, het gesê die saak is op 12 Oktober 2022 aangemeld.
“Die klaer het na bewering ‘n oproep van die bank ontvang om te verifieer of hulle betalings van altesaam R862 000 gemagtig het waar R800 000 vir ‘n eiendomsaankoop en R62 000 vir ‘n voertuig was.
“Die klaer het glo onmiddellik die bank opdrag gegee om die betalings te staak.”
Die Valke het gesê ondanks die bank se ingryping is daar later ontdek dat R62 000 reeds oorgeplaas is na ‘n maatskappy wat aan Shabane gekoppel is.
“Gelukkig is die R800 000, wat in ‘n rekening van ‘n ander verdagte wat op vrye voet bly, in ‘n rekening oorgeplaas is, suksesvol teruggeskryf.”
Fumba het gesê die saak is toe na die Valke verwys om ‘n deeglike ondersoek te doen.
“Die Valke het Shabane se beweerde verbintenis met die begunstigde maatskappy ontbloot wat gelei het tot haar arrestasie in Pietermaritzburg op 25 Februarie 2025.”
Shabane het die volgende dag in die Mthatha Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn.
Sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en die saak is tot 23 April 2025 uitgestel.
Fumba het gesê ondersoeke duur voort en verdere inhegtenisnemings is op hande.
