Die polisie in Wes-Transvaal het inwoners gemaan om waaksaam te wees wanneer hulle hul bankkaarte gebruik, nadat twee verdagtes in twee afsonderlike voorvalle in Potchefstroom gearresteer is, omdat hulle na bewering bankkaarte gesteel het.
Provinsiale polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Sam Tselanyane, sê tydens die eerste voorval was ‘n man besig om kontant by ‘n OTM te onttrek toe dit wanfunksioneer het.
Hy het die transaksie gekanselleer, maar toe sy kaart terugbesorg is, het hy besef dit is nie syne nie. Oomblikke later is onttrekkings by ‘n nabygeleë winkel gemaak.
Die slagoffer het na die kringtelevisiebeeldmateriaal by die winkel gaan kyk en ‘n paar dae later dieselfde man in die dorp gewaar en die polisie in kennis gestel.
Tselanyane verduidelik, “In ‘n tweede onverwante voorval was lede van Potchefstroom Misdaadvoorkoming op patrollie in die dorp toe hulle ‘n leidraar ontvang het van ‘n verdagte Mini Cooper-voertuig.
Die voertuig is opgemerk waar hy in die Dr James Morokalaan ry en lede het dit afgetrek. TYdens die deursoeking van die voertuig en bestuurder het die polisie talle bankkaarte gevind wat in die bestuurder se onderklere versteek was en hy kon nie ‘n bevredigende verduideliking gee van dié kaarte in sy besit nie. Gevolglik is hy ook gearresteer en sy voertuig is gekonfiskeer. Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte ook in Gauteng vir dieselfde oortreding teregstaan.”
