Vinnige optrede deur die Vrystaatse polisie het gelei tot die inhegtenisneming van vier verdagtes vir die moord op ‘n 52-jarige boer, terwyl sy vrou wat ontvoer is, ook gered is.
Kaptein Loraine Earle het gesê die voorval het Sondag op ‘n plaas in die Goedemoed-polisiëringsgebied gebeur.
Sy het gesê die polisie het na die toneel gehaas nadat hulle omstreeks 07:00 deur die boeregemeenskap in Rouxville oor die moontlike moord op ‘n boer in kennis gestel is.
“By hul aankoms het beamptes die liggaam van die boer ontdek wat in die kop geskiet is. Daar is later vasgestel dat sy vrou tydens die aanval ontvoer is,” het Earle gesê.
Sy het gesê as gevolg van doeltreffende samewerking tussen plaaslike belanghebbendes en die polisie, is die boer se gesteelde voertuig na ‘n plaas in die Tierpoort-omgewing opgespoor.
“Die Bloemfontein Flying Squad is geaktiveer en het die voertuig suksesvol opgespoor met die vrou steeds by die verdagtes.
“Sy is gered en ontvang mediese aandag om te bepaal of nog klagtes bygevoeg moet word,” het kapt Earle gesê.
Sy het gesê tydens die operasie is een verdagte gewond en is later in die hospitaal dood.
Earle sê twee vroue en ‘n man wat in die voertuig gevind is, is vir ondervraging ingeneem, terwyl ‘n vuurwapen in die motor gevind is.
Die ondersoek duur voort en die polisie was besig om die misdaadtonele te fynkam en bykomende leidrade op te volg.
