’n Namibiese voedselvervaardiger sal weer toegelaat word om hul papproduk in Suid-Afrika te verkoop nadat dit van skuld in ’n voedselvergiftigingsvoorval vrygespreek is.
Namib Mills se Top Score vanielje kitspap is einde September van rakke verwyder nadat dit die skuld gekry het vir die dood van drie kinders in Mdantsane. Drie kinders van tussen een en vier jaar oud – twee wat uit dieselfde huishouding kom – is in die hospitaal dood. ‘n Vierde kind het herstel.
Die Nasionale Verbruikerskommissie (NCC) het verlede week gesê ‘n houvas op die verkoop van die produk is opgehef nadat toetse getoon het die produk bevat geen skadelike chemikalieë nie.
Die NCC het bevestig dat alle toetse, wat geen nadelige bevindings aan die lig gebring het nie, deur geakkrediteerde laboratoriums gedoen is.
“Op grond van bogenoemde bevinding het Namib Mills nie die bepalings van die Verbruikersbeskermingswet, veral artikel 55, wat verband hou met die verskaffing van veilige en kwaliteit goedere oortree nie,” het die NCC gesê.
“Die finale ontleding van die laboratoriumtoetse wat op die groepe uitgevoer is, het nie spore van besoedeling van kommer getoon nie, wat die sluiting van die produkherroeping genoodsaak het, wat beteken dat die produk aan die mark verskaf kon word,” het waarnemende NCC-kommissaris Hardin Ratshisusu bevestig.
“Om ingetrek te word in iets wat bewys is dat dit nie met ons produk verband hou nie, het uitgebreide inspanning en hulpbronne geverg om ons onskuld te bewys,” het Namib Mills se handelsmerkbestuurder Diego Talaya gesê.
“Skade aan ‘n handelsmerk wat deur verkeerde inligting en spekulasie veroorsaak word, kan onherstelbaar wees, selfs wanneer bewyse uiteindelik die maatskappy verskoon. Ons fokus bly daarop om vorentoe te beweeg,” het Talaya gesê.
“Die hart van Namib Mills was nog altyd ons verbruikers. Ongeag die uitdagings, ons sal altyd daarna streef om te doen wat reg is en die vertroue wat ons kliënte in ons stel, te behou,” het hy afgesluit.
