Arabiese superjag kom en gaan geheimsinnig

Die R3,7 biljoen superjag, die Mar, het verlede week teen aanskoue van honderde nuuskieriges, anker gegooi in die baai.

MOSSELBAAI NUUS – Mosselbaaiers was op Donderdag, 30 Mei, net so voor 15:00 uiters verbaas om ‘n luukse superjag te sien anker gooi in die plaaslike hawe.

    Dié jag, wat voorheen in die besit was van die Russiese motormagnaat, Alexander Vershavsky, het in Januarie 2023 van eienaar verwissel en behoort nou aan sjeik Suroor bin Mohammed al Nahyan.

Hy staan as MBZ bekend en is die huidige president van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en is ook die amptelike heerser van Abu Dhabi ná die dood van sy broer op 13 Mei 2022.

Met ‘n lengte van 107 meter is die Mar (voorheen die Lana) een van die grootste superjagte, wat deur die Italiaanse Benetti-skeepswerf in Viareggio, Italië, bekend gestel is. Die Amerkaanse miljardêrs Bill Gates en Jeff Bezos is van die bekende persoonlikhede, wat al van dié jag gebruik gemaak het.

So stil as wat die jag die Mosselbaaise hawe binnegekom het, het sy weer verdwyn en het volgens vesselfinder.com, Saterdagoggend, 1 Junie, om 07:30 in die Kaapstad hawe aangekom.

Meer oor die luukse jag;

Naam: Mar

Lengte: 107m

Breedte: 15,2m

Gaste: 16 in 8 kajuite

Bemanning: 34 in 17 kajuite

Bouer: Benetti

Ontwerp deur: Benetti ontwerpspan

Binne ontwerp: Benetti ontwerpspan

Jaar vervaardig: 2020

Maksimum spoed: 6 knope (29,6km/h)

Reikafstand: 10 000km teen 22km/h

Enjines: Rolls Royce diesel-elektries

Volume: 3 891 ton

Prys: +-R3,7biljoen

Jaarlikse onderhoudskoste: +-R190 miljoen tot +-R375 miljoen

Eienaar: Sheikh Suroor bin Mohammed al Nahyan

Kaptein: Onbekend

Die jag se luukse binneruim waarborg ‘n weelderige verblyf aan sy eienaar en gaste. Van waar die Mar se reis begin het en wat die eindbestemming is, is egter onbekend. – SuperYachtFan en benettiyachts.it

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui