ALASKA – NOORD-AMERIKA – ’n Oos-Kaapse Kleurling man wie se duidelike aksent tot sy arrestasie gelei het nadat hy een van sy slagoffers ge-martel en vermoor het, is skuldig bevind aan moord op twee vroue in Alaska.
Brian Smith (52) moet in Julie gevonnis word, en ten spyte daarvan dat hy gespog het dat hy ‘n reeksmoordenaar wil wees, sê sy Amerikaanse vrou sy sal nie van hom skei nie.
Smith, oorspronklik van Queenstown in die Oos-Kaap, het vyf jaar voor sy inhegtenisneming na Alaska verhuis voor hy die moord op Kathleen J Henry (30) en die 52-jarige Veronica Abouchuk tussen 2018 en 2019 gepleeg het.
Hy is in hegtenis geneem nadat ‘n geheuekaart met foto’s en video’s van Henry se moord ontdek en aan die polisie oorhandig is.
NBC-nuus het berig hy is Donderdag skuldig bevind op 14 aanklagte, insluitend moord en veelvuldige aanklagte van seksuele aanranding.
Smith se vrou, Stephanie Bissland van Anchorage, het aan die uitsaaier gesê: “Hy was baie goed vir my, maar hy het ‘n ander lewe gehad, dink ek”, en bygevoeg sy probleme is waarskynlik vererger deur swaar drinkery.
Bissland het gesê toe hy die eerste keer in die tronk was, was hy in ‘n baie donker plek. “Hy het beter geword,” het sy gesê. Sy beplan om aan hom te skryf en hom te besoek wanneer hy na die tronk oorgeplaas word. Egskeiding is nie op die kaarte nie. “Ek het my geloftes gesê,” het sy gesê.
Smith se jeugvriende het voorheen aan die Sunday Times gesê hy is ”n stil en sagmoedige man’ wat as ‘n IT-tegnikus gewerk het.
