Suid-Afrika terug na fase-4 beurtkrag – Wat is die oorsake en gevolge?

Foto van beurtkrag skedules soos verkry op “Loadshedding Notifier”, ‘n slimfoon toepassing wat gebruik word.

Suid-Afrika 22/02/2024 – Fase-4 beurtkrag sal vanaf 05:00 tot verdere kennisgewing geïmplementeer word. Fase-4 beurtkrag beteken dat huishoudings vir ’n gemiddeld van 7 en ’n half ure sonder krag is op ‘n daaglikse basis. Gedurende fase-4 beurtkrag ondervind landsburgers 3 sessies van 2.5 uur kragonderbrekings per dag.

Wanneer fase-6 beurtkrag in werking tree is huishoudings gemiddeld vir 12 ure per dag sonder krag.

Infrastrukture en beurtkrag.

Beurtkrag word veroorsaak deur ontoereikende instandhouding en voortdurende sabotasie voorvalle by die land se kragstasies. Korrupsie en politieke inmenging wat gepaard gaan met kader ontplooiing speel ook ’n geweldige rol om beurtkrag te vererger. Wanadministrasie, tenderbedrog en geld wat wegraak ondermyn ook Eskom om na behore finansieel staande te bly om broodnodige herstelwerk aan netwerke te verrig.

Meer as 50% van Eskom se potensiële opwekkingsvermoë is buite aksie en onbeskikbaar vir produksie.

Daar word gereeld berig dat, by verskeie kragstasies, Ingenieurs en instandhoudings- personeel verplig is om gewapen of met gewapende begeleiding hul werk te doen. Sommige elemente verhoed dat broodnodige instandhoudings- werk gedoen kan word. Instandhoudings- spanne word volgens berigte gereeld met die dood gedreig as hulle instandhoudings- werk wil verrig.

Alle infrastrukture soos verkeersligte, watervoorsiening en baie meer word deur die kragonderbrekings geraak. Die voortslepende beurtkrag veroorsaak ook dat substasies oorlaai word wanneer die krag toevoer herstel word na ‘n 2 en half of soms ‘n 4 en halfuur sessies na die krag af was. Daar word op ’n daaglikse basis, landswyd gerapporteer dat kragnetwerke en substasies onder die toenemende druk ingee en nie weer aankom na kragonderbrekings nie. Soms kan dit selfs dae, weke of selfs maande duur voor die toevoer behoorlik herstel word.

Hoe word inwoners van gebiede geraak?

Dele van Pretoria-Oos, ’n gegoede gedeelte in Suid-Afrika se hoofstad, was in die verlede vir nagenoeg 3 maande sonder krag nadat substasies uitgebrand het as gevolg van oorlading na beurtkrag. Die stadsraad kon nie bekostig om die infrastrukture wat verouderd was en te swak om die snel groeiende gemeenskap te bedien te vervang nie.

Dele van Kameeldrif-Oos landbou hoewes, ’n landelike gebied aan die Noord-Ooste van Pretoria wat onder andere ’n baie groot gevangenis, Baviaanspoort gevangenis bedien, is tans vir meer as ’n week al sonder krag. Die inwoners kla dat klagtes op dowe ore val wanneer hulle die onderbrekings aan Eskom en die Stadsraad rapporteer.

Hierdie is maar enkele voorbeelde van die tragiese gebeure waar mense soms vir verlengde tydperke sonder enige krag moet klaarkom.

Hoe raak beurtkrag en kragonderbrekings individuele huishoudings?

Wanneer die krag terugkeer gaan dit gereeld met onstabiele krag lewering gepaard wat miljoene rande se skade aan huishoudelike toerusting veroorsaak. Suid-Afrika is bekend as ’n hoë misdaad land. Tydens beurtkrag is baie se sekuriteit stelsels ondoeltreffend omdat die stelsels se batterye skade opdoen gedurende beurtkrag. Misdadigers gebruik beurtkrag om hooflyn kabels te steel wat tot verdere kragonderbrekings in groot gebiede lei. Huise en besighede loop ook geweldig deur onder misdaad as gevolg van beurtkrag. Baie moorde, inbrake en rooftogte kan aan beurtkrag tye gekoppel word.

Ekonomiese gevolge van beurtkrag

Besighede moet alternatiewe metodes soos kragopwekkers gebruik om hul besighede se deure oop te hou. Dit verhoog die besigheid se lopende uitgawes en die ekstra uitgawes kom weereens uit die verbruiker se sakke. Dit het tot gevolg dat kos en produk pryse uiters nadelig beïnvloed word daardeur.

As ’n geheel speel beurtkrag ’n geweldige rol en is een van die bydraende faktore waarom die land se ekonomie teen ’n geweldige pas agteruitgaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui