VRYSTAAT. – Christo Morrison (76) en Christa Morrison (73) is Saterdag vermoor op hulle plaas naby Glen ontdek.
Ian Cameron sê Christo Morrison was glo eers aan ‘n vurkhyser vasgemaak en gemartel en gesteek, toe mee rondgery en daarna in ‘n boorgat gegooi.
Die wrede omstandighede rondom Christo Morrison (76) en sy vrou, Christa (73) sê moord op hul plaas Rietfontein naby Glen in die Vrystaat, is uit verskeie oorde ten sterkste veroordeel.
Christo is bestempel as ʼn man met ʼn goeie hart wat oor die jare ʼn “hele paar plaasboere uitgehelp” het. “Christo en Christa het baie vir mense gedoen,” het ʼn persoon wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, aan Maroela Media gesê.
Christo was vroeër onder meer ʼn hoofdirekteur by Absa en daarna ook ʼn hoofdirekteur van finansies by Sentraal-Wes.
Die egpaar se plaas is sowat 25 km buite Bloemfontein.
ʼn Bekommerde buurman het Saterdag alarm gemaak toe hy nie die Morrison-egpaar op hul selfone in die hand kon kry nie.
Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisie het Christo se liggaam sowat 300 meter van die plaashuis aangetref. Christa se liggaam is in ʼn septiese tenk op die plaas gevind. Met die polisie se aankoms op die toneel het die huis se deure oopgestaan. “In die huis was daar bloed op die vloer. Die opstal is geplunder, maar die bejaarde egpaar was nie in die huis nie,” het Kareli gesê.
ʼn Multidissiplinêre aktiverings plan is daarna in werking gestel en ʼn soektog na die egpaar is deurnag volgehou.
Die egpaar se seun, Melt, is by sy ouers se dorpshuis in Bloemfontein en sy suster, Dia, van die Kaap het reeds geland.
Na wat verneem word, het die Morrisons grond by Petrus Steyn en in die omgewing van Reitz in die Oos-Vrystaat besit.
Kareli sê die egpaar se Toyota Land Cruiser is naby Majwemasweu by Brandfort gevind. Die Morrisons het oop wonde aan hul bolywe gehad en is op die toneel dood verklaar. Gereedskap en elektroniese items is onder meer uit die huis gesteel.
Die Glen-polisie ondersoek aanklagte van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie, maar luidens berigte is mense oor die saak ondervra.
Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat, sê dié party veroordeel die brutale moord ten sterkste.
“Plaasaanvalle en -moorde neem ʼn ander vorm as huisbraak en roof in stedelike gebiede aan, veral die geweld en onmenslikheid wat daarmee gepaardgaan.”
Van Niekerk sê dit word deur politieke retoriek van die ANC en EFF aangeblaas.
“Die VF Plus beskou die wreedheid van hierdie geval as brutaal en onnodig.”
Hy sê die aanval is een van vele wat wys die regering het nie die politieke wil om hierdie soort misdade te bekamp nie. Veiligheidsnetwerk moet ook versterk word om soortgelyke aanvalle te voorkom. “Die reaksie van die polisie moet van so ʼn aard wees dat dit as afskrikmiddel vir aanvallers dien.”
Van Niekerk sê die VF Plus simpatiseer met die familie van die egpaar, wat nie verdien om hierdie hartseer te beleef nie.
