Die leeu is Woensdagoggend vroeg vir die eerste keer deur sekuriteitskameras opgemerk.
Die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) het Saterdag gesê dat ‘n leeumannetjie wat in Mbombela rondbeweeg is met ‘n pyl verdoof en gevang.
“Die leeumannetjie is vanoggend (2 November) omstreeks 02:03 by Sekelbos-landgoed in die stad Mbombela gevang,” het Simphiwe Shungube, MTPA se woordvoerder, gesê.
“Die MTPA bedank graag Sapphire Blue Drones (Geoffrey en Donald), Chris Smith van Wildlifevets en die publiek vir hul ondersteuning gedurende die soektog. Hierdie sleutelbelanghebbendes het sy aan sy met die MTPA-span gewerk totdat die leeu suksesvol opgespoor is, verdoof is en na die houhok geskuif is vir verdere hantering.”
Die leeu is Woensdag vroegoggend op veiligheidsbeeldmateriaal naby The Rest Estate in die stad Mbombela opgemerk.
MTPA het dadelik ‘n termiese beelding hommeltuig gestuur om die leeu te probeer opspoor.
Die Nelspruit Concerned Citizens (NCC) organisasie het ook bevestig dat die leeu gevang is.
“Ons wil almal bedank wat gehelp het met die vang van die leeu, veral die span van die MTPA wat die laaste paar weke baie hard gewerk het om die leeu op te spoor en te vang, en die leidrade alle ure van die nag en dag opgevolg het, ” het dit op Facebook gesê.
Dit het bygevoeg dat die MTBA bevestig het dat daar geen tweede leeu in Mbombela rondloop nie.
In dié stadium is dit nog nie bekend waar die leeu vandaan ontsnap het nie.
Die MTPA se Louw Steyn het aan News24 gesê geen wildplase in die omgewing het bevestig dat hul leeus ontsnap het nie.
“Ons dink miskien het dit van die Krugerwildtuin af gekom, maar dit is op hierdie stadium net spekulasie,” het hy gesê.
