Die vragmotor waarop beslag gelê is.
4 Julie, 2024
VRYSTAAT – Parys – Drie verdagtes het ook danksy dié vinnige optrede, hul vasgeloop in die lang arm van die gereg.
Die samewerking tussen private ondersoekers van Vrystaat Landbou en Parys SAPD, het Vrydagaand 28 Junie gesorg dat 69 skape wat uit gemeenskapskrale langs die R59 naby Parys se vliegveld gesteel is, almal lewend gevind is.
Drie verdagtes het ook danksy dié vinnige optrede, hul vasgeloop in die lang arm van die gereg.
Volgens Peet Swanepoel, provinsiale koördineerder vir private ondersoekers van Vrystaat Landbou – wat boere bystaan met veediefstalsake in die provinsie – is inligting Vrydagaand net na 20:00 ontvang van ‘n verdagte vragmotor wat van Sasolburg na Parys onderweg was.
Daar is onmiddellik ‘n waarskuwing uitgestuur oor die voertuig se bewegings.
Kort daarna is inligting van ‘n informant gekry oor veediefstal by die gemeenskapskrale buite Parys, waar 69 skape van Elias Moletsane die aand gesteel is. Twee van die ses vermeende veediewe het die veewagter in sy woning oorrompel, terwyl die ander vier verdagtes die skape op die Parys/Weiveld grondpad gejaag het.
Die veewagter is ook gedwing om saam met die verdagtes agter die skape aan te loop.
Intussen het Parys SAPD-lede ‘n goudkleurige Nissan Almera op die Parys/Weiveld grondpad onder verdagte omstandighede opgemerk asook die vragmotor waaroor inligting vroeër ontvang is. Drie verdagtes is by die voertuie in hegtenis geneem, en daar is beslaggelê op beide voertuie.
Die ses skaapdiewe het intussen die polisieligte gesien en dadelik besef hier kom moeilikheid. Hulle het die skape gelos, die veewagter aan ‘n paal vasgemaak, en die hasepad gekies.
Die veewagter het homself losgekry en gaan hulp soek.
Die polisie was toe reeds by die krale na die arrestasie van die drie verdagtes.
Die skape met ‘n waarde van R172 000 is deur die polisie in die veld gekry, en almal kon aan die eienaar terugbesorg word. Die veewagter is nie in die voorval beseer nie.
Die saak word deur die Heilbron Veediefstaleenheid ondersoek en die verdagtes sou vandeesweek voor die landdroshof in Parys verskyn het.
Die veediefstal private ondersoekers is daargestel na ‘n inisiatief van Parys Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV), en Vrystaat Landbou (VL) wat in Mei 2023 deur die dagbestuur van Vrystaat Landbou goedgekeur is. Dit is goedgekeur as loodsprojek in die Fezile Dabi-distrik vanaf 1 Julie 2023 tot 30 Junie 2024.
‘n Miljoen rand begroting is vir die projek deur Vrystaat Landbou bewillig.
Sowat 20 private ondersoekers is as deel van die projek regoor die Vrystaat geposisioneer.
In die tydperk van Julie 2023 tot Junie 2024 is goeie sukses in 105 sake behaal deur die SAPD, vee-eienaars sekuriteitsmaatskappye, beheerkamers en ander rolspelers, wat hande gevat het met die private ondersoekers.
Die sukses van hierdie samewerking spreek uit die 78,89% gesteelde skape wat teruggevind is, en 68,64% van gesteelde beeste wat gevind is.
Daar is ook beslaggelê op 23 voertuie en drie sleepwaens. Altesaam 72 verdagtes is gearresteer en aangekla.
Vee-eienaars in die Fezile Dabi-distrik in veral Heilbron, Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling het voorheen erg deurgeloop onder veediefstal en het die private
ondersoekers nou met die SAPD / Veediefstaleenhede en ander rolspelers saam gewerk om aksies te loods, roetes te monitor, en so spoedig moontlik by veediefstaltonele te kom. Parys LGV en Vrystaat Landbou moet bedank word vir die inisiatief en geleentheid wat die private ondersoekers gebied is om `n diens aan sy lede en die landbou gemeenskap te lewer.
