Drie van die vier SAPD beamptes wat van ‘n multi-miljoenrand rooftog aangekla word, is op borgtog vrygelaat ná hul aansoeke vandeesweek by die Wynberg-landdroshof.
Die eerste beskuldigde, Jacobus Groenewald, wat aanvanklik bortgtog verkry het van R1000, het dit verbeur nadat hy met 200 mandrax-tablette by Pollsmoor korrektiewe fasiliteit betrap is.
Bradley Minnaar (28), Mthuthuzeli Mafanya (33) en Bathanwa Soldati (38) is vandeesweek op borg vrygelaat terwyl Groenewald (44) agter tralies bly aangesien sy aansoek om die roof met verswarende omstandighede misluk het.
Tydens hul borgtog-argumente verlede week het die beskuldigdes beweer dat die aanklagte teen hulle swak was en dat hulle vir meer as 94 dae in aanhouding en 21 hofverskynings vir borgtogaansoek hulle benadeel het.
Die polisie lede staan tereg op aanklagte van verswarende diefstal en roof en dwarsboming van die gereg omdat hulle na bewering juweliersware en persoonlike items ter waarde van R20 miljoen geroof het nadat hulle ‘n klopjag by die Sunsetlaan-huis uitgevoer het waar die beamptes na bewering die inwoners van die huis gedreig het met ‘n vals geweer.
Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, het gesê: “Groenewald is nie borgtog toegestaan ná sy arrestasie in die Pollsmoor-gevangenis vir die besit van dwelms nie. Hy is na bewering met 200 mandrax-tablette betrap.”
Die beamptes het na bewering ‘n voornemende verdagte in ‘n klopjag met ‘n vals geweer gedreig nadat hulle opgetree het op ‘n beweerde wenk wat ontvang is toe hulle van diens gegaan het voordat hul skof veronderstel was om op 13 September verlede jaar te eindig.
Die roofvoorval het in die vroeë oggendure van 14 September plaasgevind.
Die beskuldigdes het as deel van hul betooghoofde in hul borgtogaansoeke aangevoer dat die diefstal van die juweliersware woorvoor hulle aangekla word en die bewys van eienaarskap via reeksnommers nie aan die hof voorgelê is nie.
Al die beskuldigdes se advokate het tydens borgtogverrigtinge die skedule-tipe betwis en aangevoer dat die mans volgens skedule 5 aangekla word aangesien Groenewald na bewering die enigste gewapende beampte was en nie sy dienspistool tydens die beweerde roof uit die holster getrek of gebruik het nie.
Die verdediging het gesê hulle betwis nie dat daar ‘n vuurwapen tydens die voorval was nie, maar dit is “nie gebruik of getrek nie”.
Dit was Groenewald se weergawe aan die hof dat hy die klopjag saam met sy kollegas uitgevoer het nadat hy in kennis gestel is van inligting oor twee verdagtes wat vir kubermisdade gesoek word en wat “eienaars was van ’n groot pakhuis in Killarney Gardens waar dwelms gestoor word”.
Staatsaanklaer Lukhanyo Langeni het tydens kruisondervraging gate in die weergawes van die beskuldigde gesteek waartydens Groenewald erken het hy het die nommerplate van sy polisievoertuig omgeruil en verduidelik dat hy dit gedoen het deur ‘n stuk van ‘n nommerplaat, wat hy by sy huis geneem het aan die voor- en agterkant van die polisievoertuig te plak met kleefband.
Die hof het ook gehoor dat ‘n stoortoestel in Minnaar se voertuig gevind is en dit is die staat se weergawe dat dit gebruik is om die GPS-stelsel van die voertuig te beïnvloed.
