Generaal-majoor Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris van Wes-Transvaal, het Donderdag aangekondig dat die Buffelsfontein-mynreddingsending beëindig is aangesien geen lyke of mense meer in die ongebruikte skag opgespoor kon word nie.
Dit kom nadat die vrywilligers wat instrumenteel was om die liggame van mynwerkers wat ondergronds gesterf het, uit te haal en diegene te red wat nog lewe, Woensdag berig het dat daar nie meer mynwerkers in die skag is nie.
Nadat hy die nuutste kameras Donderdagoggend in die skag afgestuur is om die gebied te ondersoek, het Mannas Fourie, uitvoerende hoof van Mine Rescue Services, bevestig dat geen mynwerkers ondergronds agter gebly het nie.
Met die reddingsoperasie op ‘n einde, was die aantal liggame wat na die oppervlak gebring is sedert die operasie Maandag begin het 78, terwyl 246 mynwerkers lewend gered is.
Sedert Augustus 2024 is nagenoeg 2 000 zama zamas gearresteer en altesaam 87 liggame is uit die myn gevind. Nege van die onwettige mynwerkers wat in hegtenis geneem is, is in die hospitaal en ontvang mediese sorg onder polisiebewaking.
Van die mynwerkers was 1 125 Mosambiekers, 465 van Zimbabwe, 200 van Lesotho en 26 van Suid-Afrika.
Nasionale polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe, het gesê verskeie zama zama leiers wat die operasie ondergronds beheer het, is saam met die mynwerkers in hegtenis geneem en is tans in polisie-aanhouding.
