Die SBL wou hê die departement moet die volledige weergawe bekend maak van wat gelei het tot die GDE-besluit, waarin ook skoolhoof Phillipa Erasmus geskors is omdat hy na bewering versuim het om in te gryp nadat hy bewus gemaak is van WhatsApp-boodskappe met beweerde rassistiese ondertone.
Regter Mandlenkosi Motha het bevind dat die SBL-aansoek nie dringend was nie, maar dat daar geen rede is hoekom die GDE nie hul verslag aan die SBL beskikbaar kan stel nie.
Hy het gesê ‘n aansoek om die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) is ‘n roete is wat oorweeg moet word om die dokumente te bekom. Motha het egter opgemerk dat “logika bepaal dat die verslag aan die betrokke partye verskaf moet word”.
Onderwysersvakbond SAOU, wat nie ‘n party tot die regsdispuut was nie, het gesê hy stem saam met Motha oor die PAIA-roete, nadat hy verlede maand ‘n PAIA-aansoek ingedien het.
“Ons wag tans op die departement se terugvoer in hierdie verband,” het SAOU-woordvoerder Dems Nel gesê.
“Indien die GDE versuim om die inligting aan ons te verskaf, sal ons die nodige regstappe neem om ons lede se regte af te dwing en om die verslag te bekom.”
“Dit is onregverdig om in ‘n opsomming van die verslag te noem dat ons lede ‘skuldig’ is, sonder om hulle die geleentheid te gee om te sien wat oorweeg is, om hulself te verdedig en hulself te laat hoor,” het hy gesê.
“Dit kan nie aanvaar word dat ons lede in die openbaar as skuldig aan iets bestempel word sonder dat die geleentheid gegun word om hulself te verdedig of om die bewerings wat teen hulle gemaak is te betwis nie.
“Dit herinner ons aan pre-demokratiese prosesse, waar partye nie toegelaat is om hulself te verdedig of gehoor te word nie,” het Nel bygevoeg.
Chiloane was vandeesweek onaangeraak deur die SBL-hofuitdaging.
“Ons is nie bekommerd nie. Ons weet ons het alles reg gedoen en die hartseer deel is dat hulle aanhou om verkeerde dinge te doen,” het hy gesê.
