ANC in wanorde: Ontbinding van Gauteng kan die party skaad

“Die party is beslis in wanorde, en daar is ‘n gebrek aan konsensus oor hoe om die GNU te bestuur en sy behoeftes met dié van die party te balanseer.”

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die African National Congress (ANC), sê die ontbinding van die party se provinsiale uitvoerende komitees (PUK’s) in Gauteng en KwaZulu-Natal is nie ‘n uitgemaakte saak nie.

Sanet Solomon, politieke ontleder van Unisa meen egter die ontbinding van die ANC in Gauteng kan die party se prestasie in die komende plaaslike regeringsverkiesings beïnvloed.

“Die moontlike ontbinding van die Gauteng- en Natalstreekleierskap kan nadelig wees vir die ANC se prestasie in die komende verkiesing aangesien dit ‘n verlies aan rigting en lojaliteit aan leiers ten gunste van die GNU kan aandui,” het Solomon gesê.

“Die party is beslis in wanorde, en daar is ‘n gebrek aan konsensus oor hoe om die GNU te bestuur en sy behoeftes met dié van die party te balanseer.

“Daarom moet die kollektiewe leierskap saamkom en die party se toekoms bespreek, nie net vir 2026 nie, maar daarna,” het sy gesê.

Ontbinding sal ook Panyaza Lesufi se verhouding met die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, beïnvloed. Lesufi, voorsitter van die ANC in Gauteng word as ‘n teenstander van die GNU beskou.

Solomon het gewaarsku dat die vervreemding van sekere ANC-leiers die lys van kandidate kan beïnvloed wat waarskynlik Cyril Ramaphosa as ANC-president sal opvolg.

Die Provinsiale Uitvoerende Komitee (PUK) in Gauteng het vandag met die ANC se Nasionale Werkkomitee (NWK) vergader om hul treurige prestasie tydens die algemene verkiesing in Mei te bespreek.

Die ANC het 34% van die stemme in Gauteng gekry, en ’n skamele 17% in Natal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui