Hendrina: Die polisie ondersoek ‘n plaasaanval, tesame met roof, moord en ontvoering

Die polisie in Hendrina ondersoek ‘n plaasaanval, tesame met roof, ontvoering, verkragting en moord. Die voorval het glo Donderdagaand, 28 November 2024, in Hendrina plaasgevind, waar die lewe van ‘n manlike slagoffer ongelukkig kortgeknip is tydens hierdie gru-voorval.

Volgens inligting wat ontvang is, het ‘n buurman bekommerd geraak nadat hy ‘n oproep van die slagoffer se werkgewer ontvang het wat aandui dat hy nie die dag by die werk aangemeld het nie.

Die buurman het gaan ondersoek instel op die buurplaas en ‘n ontstellende toneel ontdek. Die polisie is dadelik in kennis gestel en met hul aankoms het hulle die manlike slagoffer onder ‘n afdak gevind sonder enige teken van lewe. ‘n Ouer man is ook in ‘n voertuig op die perseel gevind.

Ondersoeke na die omstandighede rondom dié voorval duur voort.

Dit is bevestig dat ‘n rooftog gepleeg is, waartydens die verdagtes verskeie items, insluitend selfone, gesteel het voordat hulle van die toneel gevlug het.

Daar is later gevind dat die slagoffer se vrou ontvoer en by Embalenhle (naby Secunda) afgelaai is. Vier selfone is teruggevind, wat glo tydens die rooftog gesteel is.

Die verdagtes is steeds op vrye voet en die polisie het ‘n ondersoek na hierdie tragiese voorval begin.

Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes vas te trek om die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel of inligting via MySAPS-toepassing te stuur. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word, en rapporteerders kan kies om anoniem te bly.

Verdere besonderhede oor hierdie tragiese voorval sal mettertyd gekommunikeer word.

Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, generaal-majoor (dr) ZM Mkhwanazi, het die publiek verseker dat die Polisie onvermoeid sal werk om te verseker dat die oortreders van hierdie gruwelike misdaad vinnig voor die hof gebring word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui