‘n Geïntegreerde misdaadbekampingsoperasie bestaande uit Voertuigmisdaadondersoekeenhede (VCIU) van Bellville en die Paarl, ondersteun deur Misdaadintelligensie, Makhaza en Khayelitsha SAPD, Metropolisie, Verkeersdienste, Wetstoepassing en die Departement van Binnelandse Sake, het gelei tot die arrestasies van verdagtes wat verband hou met ‘n verskeidenheid voertuigverwante oortredings en die herwinning van gesteelde voertuie.
Die operasie wat op Woensdag, 20 November 2024 plaasgevind het, het gefokus op padblokkades en voertuigkontrolepunte in hoë-risikogebeide in die Khayelitsha-polisiëringsgebied om gesoekte verdagtes op te spoor en motorkaping en voertuigdiefstalle te stuit met die komende feesseisoen in gedagte.
Die geïntegreerde magte het daarin geslaag om vier gesoekte verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 35 in hegtenis te neem vir die besit van gesteelde voertuie en motorkaping en het op tien gesteelde en een gekaapte voertuig van verskillende modelle en handelsmerke beslag gelê. Die verdagtes sal na verwagting in die hof verskyn sodra hulle aangekla is.
Waarnemende provinsiale kommissaris, genl.maj Bongani Maqashalala het die geïntegreerde magte vir ‘n suksesvolle verwyderingsoperasie geloof en belowe dat soortgelyke operasies gedurende en na die veiliger feesseisoen sal voortduur in ‘n poging om ‘n veilige omgewing vir alle besoekers en inwoners te skep.
