Oos-Kaap: bemanning en 8-jarige word langs die pad gelos tydens kaping van ‘n ambulans

Die ambulans is die vierde departmentele voertuig wat sedert Januarie in die Qumbu omgewing gekaap is.

‘n 8-jarige pasiënt en die bemanning van ‘n ambulans, is langs die pad gelos tydens ‘n gewapende kaping van ‘n ambulans naby Qumbu. Die ambulans was op pad na die Nelson Mandelabaai-hospitaal in Mthatha.

‘n Soektog na die voertuig is sedert Dinsdag aan die gang. Mkhululi Ndamase, woordvoerder van die departement, het die voorval bevestig en gesê die voertuig en toerusting alleen was R1-miljoen werd.

“Die ambulans is nog nie teruggevind nie,” het hy gesê.

Ndamase het gesê die Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Ntandokazi Capa, het die teiken van gesondheidsorgwerkers en personeel veroordeel en gesê dit het dienslewering in die gedrang gebring.

“Hierdie aanval het die twee EMS-bemanningslede en die agtjarige pasiënt getraumatiseer deur hierdie sinnelose aanval. Ons sal berading aan die EMS-bemanningslede en die pasiënt bied. Ons is verlig dat die werknemers en pasiënt sonder fisiese beserings ontsnap het,” het Capa gesê.

“Hierdie kaping beteken ook dat ons nou een ambulans minder sal hê om die Alfred Nzo-distrik te bedien, wat ons vermoë sal benadeel om betyds op noodgevalle te reageer,” het sy bygevoeg.

“Ons doen ’n beroep op die polisie om geen steen onaangeroer te laat in hul ondersoek nie. Gemeenskappe moet ook met wetstoepassingsagentskappe saamwerk sodat diegene agter hierdie gruwelike misdade aan die hof gebring kan word.”

Dit is die vierde voertuig van die departement van gesondheid wat in die Alfred Nzo-distrik, wat aan KwaZulu-Natal grens, gekaap word. DM

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui