Drie mans is aangekeer vir die moord op Ian Boshoff (32), wat op 25 Oktober koelbloedig by die Snymanshof-lodge in Buffelshoek in Noordwes vermoor is
Die drietal is Donderdag in ’n operasie in die township Ikageng in hegtenis geneem, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Ian Boshoff (32) is op 25 Oktober by Snymanshof Lodge in Buffelshoek, Noordwes, vermoor. Hy het dié lodge, halfpad tussen Potchefstroom en Vereeniging, bestuur.
OFM Nuus het vroeër berig ’n buurman het Saterdag (26/10) op Boshoff se liggaam in ’n plas bloed afgekom. Hy het ondersoek ingestel nadat hy hom nie in die hande kon kry nie. “Hy het op sy rug gelê met verskeie skietwonde en is op die toneel dood verklaar,” het kol. Adèle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, kort ná die moord gesê.
Mokgwabone het gesê polisiebeamptes het tydens die inhegtenisneming op drie vuurwapens beslag gelê. Twee van die wapens is tydens die inbraak en roof gebuit. Die ander wapen is gebruik om die misdaad te pleeg.
“Die verdagtes het met Boshoff se voertuig, twee vuurwapens, gereedskap en verskeie huishoudelike items op die vlug geslaan.” Hulle was vermoedelik voor of ná die voorval by nog ’n inbraak in die omgewing betrokke.
“Om die verdagtes op te spoor, het die ondersoekspan ywerig gewerk om gesteelde en geroofde items terug te kry, insluitend ’n noodwiel, klere, kampstoele, komberse, twee beddens, matte, 15 patrone, ’n haelgeweer en een geweer,” sê Mokgwabone.
Die verdagtes (tussen 33 en 42) staan tereg op aanklagte van huisbraak, moord, diefstal van ’n gesteelde voertuig, besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Drie mans het Maandag(11/11) in die Potchefstroomse landdroshof in verband met die moord op ’n jong plaasbestuurder verskyn. Die een beskuldigde het erken ‘Ek het dit gedoen”.
Hulle word aangekla van moord, twee klagtes van inbraak, diefstal van ‘n motorvoertuig, die besit van moontlik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.


