16 Beseer nadat minibustaxi naby Buccleuch gerol het

Minstens 16 mense is beseer nadat ‘n minibustaxi op die N1-hoofweg omgeslaan het.

Na verneem word, het die ongeluk Maandag net ná 07:00 by die Buccleuch-wisselaar gebeur. Die taxi was onderweg van Johannesburg CBD na Midrand.

Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse Metropolitaanse polisiedepartement, het motoriste versoek om die gebied met omsigtigheid te benader.

Beserings
“Daar is ‘n ernstige ongeluk naby Buccleuch waar ‘n minibustaxi omgeslaan het. Nooddienste, insluitend paramedici en beamptes van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), is op die toneel.

“Al 16 insittendes van die taxi, insluitend die bestuurder, is beseer. Daar word berig dat vyf passasiers ligte beserings opgedoen het, terwyl die oorblywende 11 ernstiger beserings opgedoen het,” het Fihla gesê.

Fihla het gesê die oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie.

“Een baan van die N1-Noord is gesluit weens die voorval, wat tot verkeersopeenhopings en vertragings gelei het. Motoriste word aangeraai om die area te vermy indien moontlik of vir vertragings te beplan,” het Fihla gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui