Die ANC in Sentraal-Transvaal sê daar is samesprekings om beheer oor die Stad Tshwane oor te neem.
Die Stad Tshwane kan die volgende munisipaliteit wees wat burgemeestersveranderinge sien, sê die provinsiale voorsitter van die ANC en Gautengse premier, Panyaza Lesufi.
Lesufi het die media Maandag in Johannesburg ingelig aan die einde van die Provinsiale Uitvoerende Komitee (PUK) se vergadering.
Hy het gesê die ANC is genader om afsprake te hê oor ‘n strategie om die Stad Tshwane terug te neem. Huidiglik word die stad gelei deur ‘n DA-geleide koalisie met Cilliers Brink as burgemeester.
”n Groot kans’
“Daar is ‘n groot kans wat in die volgende twee weke in Pretoria kan gebeur. Daar was ‘n groot oplewing van politieke partye wat wil hê die ANC moet terugkom en Pretoria red,” het hy gesê.
Lesufi het gesê die provinsie sal verbintenisse met die ANC-moederliggaam hê oor stappe om Pretoria terug te eis.
“Ons wil ons nasionale leierskap raadpleeg omdat daar verskeie dinamika rondom Pretoria is. Ons moet ook sensitief wees vir die verhouding wat tot stand gebring is met die nasionale regering,” het hy gesê.
Lesufi het die ANC-voorsitter van Johannesburg, Dada Morero, gelukgewens, wat Vrydag as die nuwe Johannesburgse burgemeester ingesweer is. Hy het by plekhouer-burgemeester Kabelo Gwamanda, ‘n raadslid van Al-Jama-ah, oorgeneem.
‘Daar sal veranderinge in Pretoria wees’
TK Nciza, provinsiale sekretaris van die ANC, het gesê die ANC is bekommerd oor dienslewerings-probleme in Pretoria.
“Ons glo daar sal veranderinge in Tshwane wees en ons is besig met Action SA en ander partye oor Tshwane,” het hy gesê.
Nciza het gesê die ANC is seker oor die getalle wat hulle nodig het om Pretoria terug te neem.
Herman Mashaba, leier van ActionSA, het in ‘n onderhoud met The Citizen bevestig dat die ooreenkoms wat die party met die ANC het ander munisipaliteite in Sentraal-Transvaal, soos die Oos-Rand en Pretoria, sal raak.
Die huidige reëling in Johannesburg en Pretoria het meegebring dat EFF-raadslede hul posisies op die burgemeesterskomitee behou ondanks ‘n verbrokkeling in betrekkinge met die ANC op plaaslike vlak.
Die ANC het ‘n knou gekry in Sentraal-Transvaal en het sowat 34% van die stemme in die nasionale verkiesing gekry.
Die party het gesê hy sal daarop fokus om sy bande met verskillende sektore van die gemeenskap te laat herleef en die publiek se vertroue te herwin.
