30 Junie 2024
Deur Dr. Jann Schlebusch
Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Die Griekse woord wat hier met ‘nasies’ vertaal is, is ‘ethnos’. Dit beteken ‘volke’, maar meer spesifiek ‘heidense volke’ – in die sin van ‘nie-Israelitiese volke’ (Strongs 1484).
Die opdrag wat ons Here Jesus hier gee is dus dat sy dissipels (wat ons insluit) die Evangelie aan die heidense, nie-Israelitiese volke moet gaan verkondig en hulle moet leer om alles te onderhou wat Hy ons beveel het. Dit beteken dat die volke aan die heerskappy van Christus moet onderwerp.
Hierdie is die kernboodskap van die Nuwe Testament. Die kernboodskap van die Ou Testament was ook dieselfde – dat Israel aan die heerskappy van God moet onderwerp. Dit is waaroor God se Verbond gaan as Hy in Lev_26:12 sê “Ek sal in jul midde wandel en vir julle ‘n God wees, en júlle sal vir My ‘n volk wees.” en in Dt 10:12,13 “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” en in Mig 6:8 Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”
Om aan God se heerskappy te onderwerp, beteken dus dat God as die hoogste gesag beskou moet word; en dat sy Wet gehoorsaam moet word – sy Wet is immers dit wat Hy beveel het.
Dit beteken ons moet God se wil soek en ons eie wil aan sy wil en Wet onderwerp – soos die voorbeeld van ons Verlosser in Mk 14:36 toe Hy in sy grootste benoudheid gebid het: “En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Daarom leer Hy ons in die Onse Vader bid: “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mt_6:10). Onderwerping aan Christus se heerskappy is die sleutel. Daarom leer Hy ook in Mt_6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Nou is dit belangrik om te let daarop dat hierdie opdrag nie net aan die individu gegee word nie. Uit die konteks van die Skrifgdeeltes is die opdrag ook baie duidelik aan volke – ja, aan fisiese volke. Ons mag nie God se Verbond vergeestelik met die moderne dogma dat ‘sy Verbond nou net met ’n geestelike volk van gelowges uit alle volke is’ nie. Ja, Hy noem die gelowiges uit al die volke sy ‘volk’, maar Hy noem ons ook sy ‘bruid’, en sy ‘liggaam’. Dit beteken mos nie dat die belangrike funksies van ‘n fisiese bruid en ‘n fisiese liggaam nou verval nie! Dit is tog duidelik net metafore!
Dat God sy Verbondsopdrag van Israel (en Juda) weggeneem het, en aan ‘ethnos’, dit is die heidense, nie-Israelitiese volke gegee het, is ook baie duidelik uit die volgende Skrifgedeeltes:
· Mt 21:33-45 (Gelykenis van die landbouers) waar Koning Jesus uitdruklik in vers 43 sê “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘ethnos’ = heidense, nie-Israelitiese volke gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.
· Hd 15:12-18 waar Petrus die Apostels toespreek en daarop wys dat God van die begin af uitgesien het daarna om vir Hom ‘n volk uit die ethnos = heidense nie Israelitiese volke aan te neem en ook dat die woorde van die profete hiermee ooreenstem “sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die ethnos = heidense nie-Israelitiese volke oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.”
· Hd 17:26,27 waar die Here aangaande sy optrede by die Toring van Babel verduidelik dat Hy die volke van mekaar geskei het en grense tussen hulle gestel het sodat die volke Hom kan soek.
· Rom 10 en 11 waar ons lees dat God se geduld met Israel (insluitend Juda) opgeraak het omdat hulle sy Verbond verlaat het; en, hoewel Hy hulle nie finaal verstoot het nie, het Hy “hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie” (Rom 11:8). Dan lees ons in Rom 11:11-14: “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die ‘ethnos’ = heidense, nie-Israelitiese volke gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die ‘ethnos’= heidense, nie-Israelitiese volke, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! Want aan julle ‘ethnos ’ = heidense, nie-Israelitiese volke sê ek: Vir sover as ek ‘n apostel van die ‘ethnos’ = heidense, nie-Israelitiese volke is, verheerlik ek my bediening as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red! “
Wie kan nou nog ontken dat volke ook in die Nuwe Testament ‘n sentrale funksie en Verbondsverantwoordelikheid het?
