20 verdagtes soek ná transitorooftog

Sowat 20 transitorowers het Saterdagmiddag op ʼn pantservoertuig van Fidelity in Mhala, Mpumalanga, toegesak en met verskeie vuurwapens asook ʼn onbekende bedrag kontant die pad gevat nadat hulle die voertuig twee keer oopgeblaas het.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder vir die Valke in Mpumalanga, sê die voorval het om 16:05 plaasgevind.

“Na bewering was die gepantserde voertuig besig om geld van kleinhandelwinkels in die omgewing van Thulamahashe na die depot te vervoer toe die voertuig skielik deur ʼn silwer Mercedes-Benz gestamp is.

“Fidelity se begeleidingsvoertuig, ʼn Toyota Hilux-bakkie, is daarna deur insittendes van twee VW Polo’s aangeval. Hulle het die bestuurder van die bakkie geskiet en twee vuurwapens gebuit. Die bestuurder is later vir mediese behandeling na die hospitaal geneem.”

Sekgotodi sê die twee Polo’s het die pantservoertuig agternagesit en daarop losgebrand totdat die voertuig tot stilstand gekom het.

“Die verdagtes het die bestuurder en bemanningslede uit die voertuig gedwing en hulle in bosse langs die pad gelos. Hulle het ook die bemanningslede se vuurwapens afgeneem.”

Die groot groep verdagtes, almal glo Zoeloesprekendes met klapmusse, handskoene en koeëlvaste baadjies, het daarna die pantservoertuig oopgeblaas.

Hulle het die pantservoertuig twee keer met springstof oopgeblaas en ʼn onbekende bedrag geld geneem.

“Daarna het die verdagtes van die toneel in die rigting van Dwarsloop gevlug.”

Sekgotodi sê die gemeenskap het ook later op die misdaadtoneel toegesak en die res van die geld wat rondgelê het, gebuit.

“’n Saak van transitorooftog, poging tot moord en gewapende roof is vir verdere ondersoek geopen.

“Die Valke doen weereens ʼn beroep op die publiek om nie ʼn misdaadtoneel te besoedel nie.

“Dit kan gevaarlik wees omdat daar moontlik springstof was wat nie tydens die ontploffing ontplof het nie. Lede van die publiek kon hul lewe verloor of ernstige beserings opgedoen het terwyl hulle besig was om die los kontant te buit.”

Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, speur-ao. Albert de Lange, by 071 481 2815 te bel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui