Politieke analisering volgens Willie Spies

Volgens die voorlopige program wat deur die parlement aan nuutverkose lede gestuur het, gaan die eerste sitting, waar die President, die Speaker en Adjunk-Speaker aangewys word, waarskynlik op 18 Junie wees.

Die datum is van besondere simboliese betekenis, want op 17 Junie sal dit presies 100 jaar wees sedert die Volksraadsverkiesing van die ou Unie van Suid-Afrika waarin wit kiesers, tesame met ‘n aantal bruin en swart kiesers, wat in die destydse Kaapprovinsie aan die kieskwalifikasies voldoen het, gestem het vir lede van die destydse parlement.

As die parlement op 18 Junie vanjaar byeenkom, sal dit presies ‘n honderd jaar wees sedert die uitslae van daardie historiese 1924-verkiesing begin bekend word het.

In daardie verkiesing het ‘n ongewone koalisie van Engelssprekende sosialiste van die destydse Arbeidersparty en Afrikaanssprekende nasionaliste van Generaal JBM Hertzog se Nasionale Party, saam ‘n nuwe regering gevorm, sonder die Suid-Afrikaanse Party van Generaal Jan Smuts, wat sedert die Anglo-Boere-oorlog, die Suid-Afrikaanse politiek saam met en sy provinsiale voorgangers oorheers het.

Wanneer die parlement nou vir die eerste keer byeen kom vir die inswering van nuwe lede onder voorsitterskap van Hoofregter Raymond Zondo, sal daar na die inswering van lede, nominasies gevra word vir die aanwysing van ‘n Speaker.

Die uitkoms van die Speakers-verkiesing sal reeds ‘n goeie aanduiding gee wat die aard van die koalisie gaan wees wat Suid-Afrika gaan regeer.

Die twee moontlikhede wat tans die meeste aandag in die publieke diskoers kry, is eerstens ‘n veelparty-regering van nasionale eenheid, soortgelyk aan die regering van nasionale eenheid wat tussen 1994 en ongeveer 1997 geheers het, met ‘n kabinet wat saamgestel is uit verskillende partye oor die hele spektrum. 

Op die stadium lyk die apokaliptiese scenario van ‘n ANC-MK-EFF koalisie nie baie waarskynlik nie.

Die tweede, is ‘n moontlikheid wat veral bevorder is deur Dr Frans Cronje se Social Research Foundation en skynbaar ook inslag gevind het in sekere faksies van die ANC sowel as die DA.

Dit behels ‘n minderheidsregering van die ANC wat gerig word deur ‘n sogenaamde “confidence-and-supply arrangement” oftewel ‘n “vertrouensverdrag”, soos James Kemp dit op Pretoria FM noem, waarin die ANC alléén die uitvoerende gesag behou, met steun van byvoorbeeld die DA, IVP en VF Plus. Die teenprestasie wat vennote ontvang is nie noodwendig kabinetsposte nie, maar eerder sleutelposisies in die parlement soos die Speaker en voorsitters van parlementêre komitees asook sekere belangrike beleidstoegewings wat met ‘n Algemene Regswysigingswet deurgevoer word.

In so situasie is die ANC steeds ‘n minderheidsregering, maar die DA en ander vennote wat onderneem om nie ‘n mosie van wantroue te steun nie en begrotings wel goed te keur, onderhewig aan sekere beleidsriglyne.

Daardie riglyne kan byvoorbeeld behels dat omstrede wetgewing soos die BELA-wet, die Nasionale Gesondheidsversekering en selfs die nuwe Onteieningswet, nie deurgevoer of geïmplementeer word nie en streng SEB-vereistes verslap word sodat ruimte gelaat word vir die burgerlike samelewing en die sake-sektor om hul werk voort te sit met minder staatsinmenging en oorregulering.

In die Noordkaap, sou so ‘n reëling byvoorbeeld kon beteken dat die VF Plus sy steun gee aan ‘n minderheidsregering daar, in ruil vir groter erkenning van Orania as ‘n selfstandige gemeenskap. 

Dit sou ‘n wenslike oplossing wees, omdat dit nie gedryf word deur poste nie, maar deur politieke skikkings oor kernkwessies.

Intussen sal ons ons springmielies reghou vir die toutrekkery van die volgende 10 dae, in die hoop dat die uitslae van die Speakers- en Presidentsverkiesing op 18 Junie weer, soos 100 jaar gelede ‘n historiese oomblik gaan wees.

Rubriek geskryf deur Willie Spies vir Beeld van 7 Junie 2024

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui