Twee mans is in hegtenis geneem nadat ʼn man wat vroeër as vermis aangemeld is, se liggaam in ʼn suikerrietplantasie in Tongaat, KwaZulu-Natal, gevind is.
Kol. Robert Netshiunda, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die liggaam van Russell Lexton Cromhout (69) is Saterdagaand in die Waterfall-gebied in Tongaat gekry.
Die polisie is Woensdag na ʼn plaas in die Waterfall-gebied ontbied ná gerugte van ʼn inbraak. Die huis is geplunder en die eienaar sowel as sy voertuig was skoonveld.
ʼn Soektog na Cromhout is van stapel gestuur. Die eenheid vir ernstige geweldsmisdade in Umhlali het die ondersoek oorgeneem en Saterdag een van die verdagtes by ʼn kruidenierswinkel in Bo-Tongaat in hegtenis geneem. ʼn Vuurwapen en ammunisie wat aan Cromhout behoort het, is in sy besit gevind.
ʼn Tweede verdagte is ook vasgetrek en Cromhout se voertuig asook huishoudelike items in sy besit gevind.
Die verdagtes word aangekla van moord, huisbraak en diefstal, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie asook die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Die twee verdagtes, wat voorheen op parool vrygelaat is, sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.
