Nóg twee vas oor R2,8 miljard se Ponzi-skema

Sona Pillay (54) en Michael Philip Adam (55) is in hegtenis geneem in verband met die BHI-Ponzi-skema.

Die 60-jarige Craig Roy Warriner is reeds in verband met dieselfde Ponzi-skema 25 jaar tronkstraf opgelê op 206 aanklagte van bedrog en dat hy ʼn ongeregistreerde finansiëlediensteonderneming bedryf het, sê kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Pillay is Vrydag in hegtenis geneem. “Hy wou oorsee vlug waar hy toegang tot die land geweier is en teruggestuur is na Suid-Afrika. Die Valke se ondersoekspan het hom by OR Tambo-lughawe ingewag.” Dis nie bekend waarheen hy wou vlug nie.

Adam het homself Maandagoggend oorgegee.

Die twee het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof se sitting in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

“Die Valke se ondersoek het Pillay en Adam met die Ponzi-skema, wat in 2008 begin het, verbind. Individue het kapitaal ter waarde van meer as R2,8 miljard belê met beloftes dat hulle winste van meer as 10% sal ontvang. Nuwe beleggingsgeld is gebruik om opbrengste aan beleggers te betaal of onttrekkings uit te betaal. Soos ʼn tipiese Ponzi-skema het die BHI Trust ineengestort en hulle kon nie die beleggers bly betaal nie.”

Van die beleggers het enorme verliese gely.

“Warriner is al sedert sy inhegtenisneming in Augustus 2023 agter tralies totdat hy onlangs gevonnis is. Nog inhegtenisnemings in die saak word verwag.”

Die hof het die saak vir sewe dae uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog vir Adam en Pillay. Hulle moet op 10 Junie weer in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui