Die minagting waarmee mense omgaan nadat die stadsaal in Lichtenburg afgebrand het, bekommer hulle, sê Barry Müller, die FAK se nasionale projektehoof.
Dit is die derde keer in ʼn jaar wat ʼn brand in munisipale eiendom uitbreek – die eerste twee kere het die Ampie Bosman-kultuurhistoriese museum op die dorp in die slag gebly.
ʼn Verwoestende brand het Saterdag in die vroeë oggendure in die stadsaal uitgebreek en hoewel nóg die omvang van die skade, nóg die oorsaak al bekend is, word vermoed dat mense vuur gemaak het binne die gebou en die vlamme buite beheer geraak het. “Ons is juis bekommerd oor daardie deel van Lichtenburg, wat De La Rey se standbeeld, die Burgeroorlog-monument, die Eeufeesmuur en die taalmonument huisves. Vyf blokke verder is die landboumuseum,” sê Müller.
Die vermoede bestaan dat haweloses vuur gemaak het vir hitte.
In ʼn brand wat in Oktober 2023 by die stadsaal uitgebreek het, is die museum ook deur die vlamme verwoes. Skade aan die saal was destyds gering, maar alle artefakte in die museum het in die slag gebly.
Yusuf Laher, DA-koukusleier, sê hulle sluit nie brandstigting uit nie. Hy het Maandagoggend gesê hy gaan met die Ditsobotla-munisipaliteit se munisipale bestuurder praat. Hy sê die munisipaliteit is in ʼn geldelike verknorsing, wat beteken óf sake-eienaars moet betrokke raak, wat hy betwyfel, óf die departement van kuns en kultuur moet help met die herstel van die geboue.
Müller sê ná die eerste brand destyds is bakstene in ʼn sirkel gepak en was dit duidelik iemand het “daar gesit en vuurmaak”.
Vier tot vyf maande vóór die eerste brand is drie briewe rakende die kwessie al aan die munisipaliteit gerig, maar geen terugvoer is ooit ontvang nie. “Die polisiekantoor is reg oorkant die stadsaal geleë en tog merk hulle geen onraad nie.”
Müller sê dit voel asof (die bewaring van) erfenis op die dorp laaste op die munisipaliteit se prioriteitslys is.
Die polisie is ook al skriftelik genader rakende die verwydering van items uit die puin. Volgens Müller het hulle destyds voor die eerste brand hul hulp aangebied in ʼn poging om die landboumuseum te red, toe die gebou in puin gelê is. “Vier weke later is mense gevind wat vuurgemaak het binne die gebou.”
Laher het in Lichtenburg grootgeword en hy sê dit is moeilik om te aanskou hoe erg die gebou beskadig is.
Pius Batsile, woordvoerder van die Ditsobotla-munisipaliteit, sê hulle weet nog nie wat die skade beloop nie, maar het bevestig dat die stadsraad nie tans geld het vir die herstel aan die gebou nie.
