ʼn Gesin met ʼn eenjarige baba is Vrydag in die vroeë oggendure gedwing om in hul eie Toyota Fortuner te klim toe gewapende rowers by hul huis in Sabie in Mpumalanga toegeslaan het.
Die slagoffers is kort daarna langs die pad afgelaai en hul gesteelde voertuig is dieselfde dag deur die polisie teruggevind. Die verdagtes is egter steeds op vrye voet.
Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die voorval het tussen 02:00 en 03:00 plaasgevind. Die slagoffers het nog geslaap toe die rowers toegang tot hul huis verkry het.
Die rowers was glo baie aggressief en het vuurwapens op die slagoffers gerig.
“Die verdagtes het die slagoffers beveel om kalm te bly en gedreig om hulle dood te maak indien hulle nie saamwerk nie.
“Die verdagtes het die slagoffers se persoonlike besittings gesteel en op die sleutels van die Toyota Fortuner aangedring. Nadat hulle die gesteelde goedere in die voertuig gelaai het, het hulle die slagoffers en hul eenjarige baba in die voertuig gedwing.”
Volgens Mdhluli is die slagoffers later in ʼn afgeleë gebied op die Sabie-Hendricksdal-pad (R37) afgelaai en die verdagtes het met hul Fortuner en gesteelde besittings weggejaag.
Die slagoffers het vandaar geloop om hulp te kry, waarna die toepaslike wetstoepassingsowerhede ontbied is, waaronder die polisie, lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en opsporingsmaatskappye.
Die beamptes het die nodige hulpbronne ontplooi en die gesteelde voertuig is omstreeks 06:00 naby die grens by Goba in Nkomazi opgespoor, sê Mdhluli.
