Sentraal-Transvaal. – ‘n Video van ‘n polisiekonstabel van die Etwatwa-polisiestasie wat ‘n polisievoertuig onder die invloed bestuur, word op sosiale media versprei. Kriminele sowel as departementele klagtes is teen hom aanhangig gemaak.
Lt.kol. Mavela Masondo sê die polisiebestuur neem kennis van die video van ‘n polisielid wat dronk in ‘n gemerkte polisievoertuig van Etwatwa-polisiestasie rondry. Die konstabel was nie gemagtig om die voertuig op die tydstip te bestuur nie.
Sake van bestuur onder die invloed van alkohol, bestuur van ‘n staatsvoertuig sonder die eienaar se toestemming en roekelose en nalatige bestuur is teen die konstabel geopen. ‘n Departementele saak is ook geregistreer.
Lt.genl. Tommy Mthombeni het die gemeenskap wat die gedrag onder polisiebestuur se aandag gebring het, bedank.
“Sulke gedrag deur die polisiebeampte sal nie geduld word nie. Polisiehulpbronne, insluitend polisievoertuie, is bedoel om die gemeenskap te dien en dienslewering te versnel. Die misbruik van staatshulpbronne sal nie geduld word nie,” sê Mthombeni.
