LADYBRAND – ‘n Bejaarde egpaar is deur ‘n groep onbekende mans aangeval wat vuurwapens uit die plaashuis gesteel en met die klaer se bakkie gevlug het.
Op Woensdag 01 Mei 2024 omstreeks 23:30 het die bejaarde egpaar, 65 en 66 jaar oud, in hul sitkamer by hul plaas naby Ladybrand gesit toe hulle ‘n geluid in die kombuis hoor.
Skielik het vier onbekende Swart-mans na bewering die huis binnegekom, en een van die verdagtes het die 66-jarige man met ‘n onbekende voorwerp op die kop geslaan en die egpaar met lakens vasgebind en geblinddoek.
Die verdagtes, gewapen met ‘n koevoet, het sleutels van die kluis geëis en elf vuurwapens gesteel. Ses gewere, twee haelgewere, twee handwapens en een rewolwer. Voordat hulle van die toneel gevlug het, het verdagtes verder huishoudelike items geneem en daarna in ‘n wit Mahindra-enkelkajuitbakkie met registrasie HXL158 FS van die toneel gevlug.
Albei slagoffers het beserings aan die voorkop, arms en kop opgedoen. Die verdagtes het na bewering toegang verkry deur die diefwering deur te breek. Die egpaar is in ‘n ernstige maar stabiele toestand na die hospitaal geneem. Die Ladybrand-polisie het ‘n huis roof saak geopen vir verdere ondersoek.
Die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid, wat saam met die Ladybrand-polisie werk, het ‘n soektog van stapel gestuur. Enigiemand wat moontlik inligting het oor waar die verdagtes is, word versoek om speur kolonel Ben Bolsiek 082 466 8530 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak of ‘n anonieme wenk aan My SA te stuur.
