Twee selfone en lekkergoed is in die mees onlangse voorval waarin bejaardes in dié provinsie geteiken is, gesteel.
Bejaardes is die afgelope maand in verskeie voorvalle van huis roof in Parys en Vredefort in die Vrystaat geteiken.
In die mees onlangse voorval is die 78-jarige Sarie Volschenk van Vredefort Maandag helder oordag deur twee mans met klapmusse in haar huis in Carl Cilliers straat aangeval.
Elna Saayman sê haar skoonma was in die kamer besig om haar hare droog te blaas toe sy rondom 11:00 hulle hondjie hoor blaf het. Sy het opgestaan om te gaan kyk wat fout is, en haar in die gang vasgeloop in die twee mans wat oor die heining geklim het om toegang tot die erf te kry.
Sy is met ‘n voorwerp, waarskynlik ‘n knopkierie, aangeval. Sarie het om hulp geskree en na die kamer gehardloop waar haar man, Johan, was. Haar aanvallers het waarskynlik geskrik toe sy geskree het en die hasepad gekies met beide Johan en Sarie se selfone, en van die lekkergoed wat in die kombuis was.
Sarie is na die Parys-hospitaal geneem waar sy behandel is vir die wonde aan haar kop, arm en oor.
Beide Johan en Sarie is erg getraumatiseer deur die voorval. Johan is nie in die voorval beseer nie, het Elna gesê.
Die verdagtes is nog nie gearresteer nie.
Ander voorvalle
In Parys is twee voorvalle van huis roof by bejaardes gerapporteer, terwyl ‘n man vroeër vandeesmaand ook in Vredefort in die oggendure van 17 April by sy huis in Oranje straat aangerand en beroof is van sy selfoon en gaspistool. Hy het water hoor loop en opgestaan om te gaan kyk of ‘n buite kraan toegedraai was. Met dié is hy oorval.
Die polisie waarsku weer dat mense te alle tye hulle deure en veiligheidshekke gesluit moet hou. Moet onder geen omstandighede die deur oopmaak vir vreemdes wat aan jou deur sou kom klop, of hulle inlaat nie.
Wees waaksaam, waarsku polisie
Oppas wie jy in diens neem en maak seker jy het ‘n afskrif van die werknemers se identiteitsdokument, bewys van adres en ‘n foto van die werknemer, waarsku die polisie.
Aktiveer jou alarm wanneer jy nie tuis is nie, maar ook saans. Moenie waardevolle items sigbaar of naby vensters laat nie.
Wees bedag op wat in jou woonbuurt aangaan. As jy verdagte voertuie of bewegings sou sien, rapporteer dit aan die polisie of jou sekuriteitsmaatskappy, en laat weet die bure op jou straat se WhatsApp-groep.
Raak vertroud met jou bure se bewegings sodat jy weet wanneer iets nie reg sou lyk nie.
Hou noodnommers byderhand en onthou: Misdaad is ‘n realiteit en daarom moet jy seker maak dat jy alles moontlik doen om veilig te wees.
