‘n Manlike werknemer is in die been geskiet toe hy probeer het om drie mans te beveg wat ‘n ander winkel in die winkelsentrum probeer beroof het.
’n SPAR-werknemer is gistermiddag geskiet en gewond terwyl hy probeer het om ’n sake roof by Glen Acres Winkelsentrum in Kempton Park te voorkom.
Volgens Kempton Park SAPD-woordvoerder, sers. Dipuo Ditshego, het polisiebeamptes en sekuriteitspersoneel gereageer op ‘n oproep van ‘n besigheids roof wat aan die gang is by Ackermans Glen Acres.
“By hul aankoms op die toneel het beamptes gevind dat een manlike SPAR-werknemer in die been geskiet is. Volgens inligting het hy drie verdagtes wat Ackermans beroof het probeer beveg,” sê Ditshego.
Sy voeg by dat drie gewapende mans die winkel binnegekom en ‘n vuurwapen op ‘n vroulike werknemer gerig het.
“Die mans het haar na die agterkant van die winkel gedwing waar die kluis gebêre word. Die SPAR-werknemer het die verdagtes gesien en die roldeur van die winkel probeer toemaak terwyl hy met een van die verdagtes baklei het. Die SPAR-werknemer is deur ’n tweede verdagte geskiet,” verduidelik Ditshego.
Sy sê drie verdagtes het uit die winkel gehardloop met ‘n koopbewys van R2 000 wat by die kassa geneem is.
“Polisie en sekuriteitsbeamptes het een verdagte langs Dannweg agternagesit en gearresteer. Die beseerde slagoffer is hospitaal toe geneem.”
Ditshego voeg by twee ander verdagtes het daarin geslaag om weg te kom.
“Die verdagte word by Kempton Park-polisiestasie aangehou en hy sal aangekla word van [die] besit van [‘n] ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, sakeroof en poging tot moord.”
Sy sê die man sal vandeesweek in die Kempton Park-landdroshof verskyn.

Die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap wat moontlik inligting oor die ander verdagtes het om Kempton Park SAPD by 011 393 8600 of 10111 te kontak.
