Daar word beweer dat die voormalige beampte op 17 April 2020 na die Westville-gevangenis gegaan en haar seun uit geboek het sonder om in besit van behoorlike dokumente van die hof te wees.
Nokulunga Gumede (59) het Woensdag, 13 Maart vlugtig in die Pinetown-landdroshof verskyn op aanklagte van dwarsboming van die gereg en die ongemagtigde verwydering van ‘n gevangene uit ‘n korrektiewe dienssentrum.
Luitenant-kolonel Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die KZN Valke, het gesê Gumede is in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as ‘n takbevelvoerder wat die rang van kaptein by die KwaMakhutha-polisiestasie beklee.
“Daar word beweer dat die voormalige kaptein op 17 April 2020 na die Westville-gevangenis gegaan en haar biologiese seun uit geboek het sonder om in besit van behoorlike dokumente van die hof te wees.”
“Dit is na bewering sonder die medewete van die ondersoekbeampte gedoen. Haar seun is aangehou vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.
“Gumede het hom hof toe geneem en die saak is weens Covid-19-beperkings nie op die rol geplaas nie. Sy het hom toe huis toe geneem en ’n saak van dwarsboming van die gereg en die ongemagtigde verwydering van ’n gevangene uit korrektiewe dienssentrum is aangemeld,” het Mhlongo gesê.
Hy het gesê die saak is aan Valke-lede van Durban Serious Corruption Investigation toegeken en ‘n dagvaarding is uitgereik.
Mhlongo het op 5 Februarie vanjaar gesê Gumede is gedagvaar om op Woensdag 13 Maart in die hof te verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.
Die saak is tot 27 Maart 2024 uitgestel.
