Dié senior student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is vroeër verlede maand tydelik geskors na aanleiding van sy openbare beswaar oor die inhoud van ʼn sessie by ’n oriënterings geleentheid.
Christie se dissiplinêre verhoor het Donderdag op die universiteit se Potchefstroom-kampus begin. Sy versoek om regsverteenwoordiging is toegestaan en AfriForum Jeug se regspan sal hom nou tydens die verhoor verteenwoordig.
“Die verrigtinge was beperk tot hierdie belangrike versoek, maar noudat dit toegestaan is, kan ons help toesien dat Christie se regte tydens hierdie proses optimaal beskerm word,” het Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder, gesê.
Christie word op vyf onderskeie aanklagte van wangedrag aangekla. Die universiteit voer onder meer aan dat Christie homself met opset skuldig gemaak het aan “haatspraak deur studente aan te hits om teen die LGBTQIAP+-gemeenskap op te staan”. Daarbenewens word hy daarvan aangekla dat hy ʼn universiteitsprogram opsetlik ontwrig het; die regte van die spreker van die betrokke sessie, Chloe Valerie van der Walt, geskend het; homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP+-gemeenskap; en dat hy wederregtelik en met opset ʼn valse uitlating rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het.
Volgens Peters misken die universiteit met hierdie aanklagte Christie se reg op vryheid van spraak en vryheid van assosiasie.
Christie is ná die voorval op 6 Februarie tydelik geskors. Sy tydelike skorsing is op 13 Februarie gedeeltelik opgehef. Die universiteit se dissiplinêre komitee het daarmee dié vierdejaar regstudent toestemming gegee om weer sedertdien aan akademiese verrigtinge op die kampus deel te neem. Hy word egter steeds nie toegelaat om enige openbare geleenthede van die universiteit by te woon nie.
