Vanderbijlpark raadslid oorlede aan ’n hartaanval

Die gemeenskap en raadslede van Vanderbijlpark het gister met skok verneem van die skielike afsterwe van die VF Plus se raadslid, Sybrand Smit, op die ouderdom van 65. Sybrand het ’n skielike hartaanval gehad en is by aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Sybrand het sy passie vir die gemeenskap ten volle uitgeleef en veral die kleinhoewe-gebied se veiligheid op die hart gedra. Hy het ook gehelp om kospakkies aan 43 behoeftige gesinne te voorsien.

Hy het op verskeie polisieforums gedien en was lid van die gemeenskapspolisiëringsforum vir die Barrage-gebied.

Sybrand was sedert 2018 betrokke by die VF Plus as aktivis en is in 2021 as raadslid verkies.

Sybrand se afsterwe laat ʼn groot leemte na – nie net in die VF Plus nie, maar ook in die gemeenskap.

Die VF Plus spreek sy medelye uit aan sy vrou Imelda, dogter Kayla en seun Zander met die groot verlies.

Begrafnis relings is nog nie bekend gemaak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui