Klerksdorp Rekord, Klerksdorp – Inwoners van Klerksdorp soek die bloed van die bestuurder van die Mercedes Benz wat Sondagaand 13 Oktober in ‘n ander motor vasgery het en almal daarbinne dood is.
Hy het toe die ongelukstoneel in ‘n ander voertuig verlaat, net om twee dae later by die polisie aan te meld. Klerksdorp Rekord kan bekend maak dat die man wat agter die stuurwiel van die vinnige Mercedes Benz was, inderdaad ‘n praktiserende prokureur in Klerksdorp is. Hy het Dinsdagoggend 15 Oktober by die polisiestasie aangemeld waar ’n waarskuwingsverklaring geneem is om hom van sy regte in te lig.
Oor hoekom “die verdagte” toegelaat is om die ongelukstoneel te verlaat, het brig Sabatha Mokgwabone, polisiewoordvoerder, gesê hy het vertrek voordat die polisie by die toneel opgedaag het. “Die polisie het onmiddellik daarna na die bestuurder gesoek, maar hy kon nie gevind word nie. Hy het homself Dinsdag aan die polisie oorgegee. Ondersoeke na die aangeleentheid is nog aan die gang en arrestasie kan of sal bewerkstellig word onderhewig aan ondersoekuitkomste.”
Mokgwabone het ook bevestig dat persone wat in ‘n ongeluk betrokke is, slegs toegelaat word om die toneel te verlaat indien hy/sy dringende mediese aandag benodig. “In hierdie stadium word klagte geformuleer en ondersoek is aan die gang om vas te stel hoekom die verdagte die toneel verlaat het.”
Klerksdorp Rekord het vroeër die week berig dat die Mercedes Benz wat op die toneel agtergebly het, deur die polisie as bewysstuk geneem is. Op die toneel is drankbottels binne die voertuig ontdek en ook as bewysstukke ingeboek. ’n Foto wat op sosiale media die rondte doen wys die bestuurder agter die stuurwiel ná die ongeluk met bloed wat oor sy gesig stroom, vermoedelik van ’n kopwond wat hy opgedoen het nadat hy sy kop teen die voorruit getref het op die trefpunt. Sy passasier, wat na bewering ‘n Nigeriese burger is, het die ongelukstoneel saam met hom verlaat. Sommige mense het aan Klerksdorp Rekord gesê dit was in ‘n Toyota Fortuner en ander het gesê die beskuldigde is later opgemerk toe hy teruggekeer het na die toneel in ‘n donkerblou Kia wat geregistreer is na ‘n adres in Adamayview, nie ver van waar die ongeluk gebeur het nie.
Brig Mokgwabone het bevestig dat kringtelevisie-beeldmateriaal wat van regoor die toneel versamel is, deel sal vorm van getuienis wat voor die hof gebring sal word. “Strafbare manslag word ondersoek, maar ons kan nie die moontlikheid van ander aanklagte uitsluit nie.’’
Van die kringtelevisiemateriaal wat Klerksdorp Rekord gesien het, wys hoe die Mercedes Benz baie vinnig op die N12 in die rigting van Stilfontein ry. Die blou Renault Clio met die vier jongmense, en ‘n wit Suzuki met net een bestuurder, was besig om by die kruising by Platanlaan uit die rigting van Matlosana Mall in te draai toe die Mercedes Benz in die Renault vasgery het, wat veroorsaak het dat dit in ‘n stertdraai getol het. Die motor het toe glo die Suzuki gestamp en die Renault laat omslaan voordat dit op sy dak tot stilstand gekom het. Die bestuurder van die Suzuki het sonder beserings ontsnap.
Verskeie mense is onder die indruk dat die bestuurder van die Mercedes Benz ‘n rooi verkeerslig oorgeslaan het en die ongeluk veroorsaak het. Klerksdorp Rekord is meegedeel dat daar teenstrydige verklarings is of die verkeersligte rooi of wel groen was.
Brig Mokgwabone het die versekering aan die gemeenskap gegee dat die polisie daartoe verbind is om hierdie voorval deeglik te ondersoek. Hy het gesê ’n gesoute speurbeampte is aangestel om ondersoek in te stel. Enige persoon wat dalk inligting het wat kan help met die ondersoek, word versoek om Klerksdorp Takbevelvoerder, Kol JC Scholtz by 082 568 6264 te bel.
