Ouers storm skool in Bredasdorp met vuurwapens

Chaos het Maandag by die “Albert Myburgh Secondary School” op Bredasdorp in die Wes-Kaap uitgebreek toe verskeie mense – glo ouers van die skool wat gewapen was – die skoolgrond betree en die akademiese program ontwrig het.

Volgens die skool het verskeie ouers die skoolterrein Maandagoggend “met voorbedagte rade” betree. Wat presies daarna gebeur het, is nog onduidelik met inligting rakende die voorval nog uiters beperk. Dit is in hierdie stadium ook onduidelik presies wat tot die ongelukkigheid aanleiding gegee het.

Die bestuur van die skool het wel gesê dit is “onaanvaarbaar” dat sekere ouers meer as ʼn duisend leerders en 42 personeellede onveilig laat voel het.

Bewerings dat die skoolhoof moontlik met ’n skerp voorwerp gesteek is, kon nie dadelik bevestig word nie.

Die skool het die “geweld” ten sterkste veroordeel en ʼn dringende en ernstige beroep op die gemeenskap gedoen kalmte te handhaaf.

Die skool oorweeg nou regstappe aangesien skole aangewese wapen vrye sones is.

’n Saak van vandalisme sal ook by die polisie aanhangig gemaak word.

Ouers is intussen genooi om ’n ouer vergadering Maandag om 18:00 in die skoolsaal by te woon.

Verskeie sosialemediagebruikers vra intussen vir gebede vir die skoolgemeenskap.

Maroela Media het die Wes-Kaapse departement van onderwys en die polisie vanmiddag genader om meer inligting rakende die voorval te bekom en verdere inligting sal bygewerk word namate dit bekend gemaak word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui