’n Verlate voertuig het veiligheidsbelanghebbendes na ’n huis in die Moot-omgewing gelei waar hulle ’n oorlede man gevind het.
‘n Man, vermoedelik in sy 80’s, is Saterdag omstreeks 13:00 tydens ‘n huisroof in Moot, noord van Pretoria, vermoor.
Volgens Kobus Olivier, Life Guard Security, het die veiligheidsmaatskappy ‘n wenk ontvang oor ‘n motor wat op Soutpanweg in Pretoria-Noord verlate is.
“Ons Life Guard Priority Crime Unit het inligting van Apiesrivier-Noord Gemeenskap Forum ontvang oor die verlate voertuig. Die eenheid het die adres gekry van die voertuig se eienaar wat in die Moot-area bly,” sê Olivier.
Hy voeg by die eenheid het toe voortgegaan na die adres waar hulle ‘n oorlede ou man gevind het.
“‘n Man wat vermoedelik in sy 80’s is, is dood in die huis gevind, en die gevolgtrekking is gemaak dat die voertuig tydens ‘n huisroof gesteel is,” verduidelik Olivier.
Hy sê die voertuig, met verskeie items wat vermoedelik uit die huis geneem is, is veilig bewaar en aan die polisie oorhandig.
’n Saak van huisroof en noodlottige aanranding is volgens hom geopen en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting oor die ligging van diegene wat by die voorval betrokke is, moet hul naaste polisiestasie besoek of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 kontak.
Die polisie kon nie die voorval bevestig ten tyde van publikasie nie.
