Leeuhof-ma en kêrel verkoop glo kind (9) se lyfie vir seks

Vaalweekblad November 2023 – uittreksel

‘n Man en vrou is op aanklagte van mensehandel in hegtenis geneem nadat hulle glo die vrou se dogter (9) se lyfie aan volwasse mans uitverhuur vir seks en betaling daarvoor ontvang het.

VEREENIGING. – Die ma en ander verdagtes wat met die saak verbind word sal na verwagting Vrydag (24 November 2023) in die Vereeniging-landdroshof op aanklagte van mensehandel en verkragting verskyn. Die vrou se saamleefmaat (31) en ‘n derde verdagte is ook in hegtenis geneem.

Daar word beweer dat dit reeds die afgelope twee jaar gebeur.

‘n Verdagte sou na bewering die ma en haar dogter by ‘n kafee in Leeuhof optel en hulle dan na ‘n plek in De Deur neem. Hier sou die verdagte eers met die ma seks gehad het en daarna die dogtertjie verkrag het.

Vaalweekblad verstaan dat die vrou en haar saamleefmaat glo die winste van die mensehandel gedeel het. ‘n Saak van mensehandel word dus ook nou teen die saamleefmaat ondersoek.

Die derde verdagte, ‘n volwasse man, word van verkragting aangekla aangesien hy na bewering seks met die minderjarige gehad het.

Volgens kapt. Fikile Funda, ‘n polisiewoordvoerder, het lede van die polisie se forensiese ondersoekeenheid Woensdag ‘n lyk in die agterplaas van die huis in Kudustraat gevind waar die vrou en haar saamleefmaat bly.  Dit is glo dié van ‘n fetus of baba.

‘n Bykomende klag van verberging van geboorte word teen die ma ondersoek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui