Gewysigde reëls is vir vandag, 14 Junie 2024, se eerste sitting van die Nasionale Vergadering (NV) bekend gemaak waartydens parlementslede ingehuldig sal word en ‘n speaker, adjunkspeaker en die nuwe president gekies sal word.
Die gewyigde reëls is deur hoofregter Raymond Zondo bekend gemaak en hou verband met prosedurele kwessies soos vrae wat deur lede gevra kan word en om orde tydens die sitting te handhaaf.
Vrae oor prosedures mag deur lede gestel word indien dit gesekondeer is deur ‘n ander lid. Die voorsittende beampte kan indien nodig besluit of dié vraag bespreek word en bepaal ook hoe lank die gesprek hieroor sal duur.
Daar sal van lede verwag word om ordelik op te tree en hulle nie aan gedrag skuldig te maak wat die verrigtinge op enige wyse verhinder nie. Indien die voorsitttende beampte van mening is dat ‘n lid nie aan die reëls voldoen nie of opsetlik ontwrigting veroorsaak, kan die lid versoek word om die vergadering te verlaat.
Die beskermingsdiens kan verder ontbied word indien ‘n lid weier om die sitting te verlaat en dan kan die lid deur hulle verwyder word.
Indien geweld voorkom weens ‘n lid wat sy of haar verwydering van die sitting teenstaan, kan die voorsittende beampte verrigtinge tydelik opskort sodat die betrokke lid deur die beskermingsdiens verwyder word.
Die voorsittende beampte kan ook ‘n lid of lede bevel om die sitting te verlaat indien die beampte van mening is dat een of meer lede op ‘n wyse optree wat die sitting ontwrig of onnodig vertraag. Die lid of lede kan verwyder word indien hulle weier om die sitting te verlaat.
Aldus die wysigings mag lede verder geen aanstootlike, beledigende, onbetaamlike of onaanvaarbare woorde of dreigende gebare gebruik nie.
