Die provinsiale hoofinspekteur vir die departement van indiensneming en arbeid, David Esau, sê dit was nie nodig om voort te gaan met werk by die perseel nie en dit is aan die grondeienaar oorhandig.
Die bouperseel in George se Victoriastraat, waar die Neo Victoria-woonstelblok op 6 Mei ineengestort het, is verlede week aan die eienaar terugbesorg nadat die polisie en die departement van indiensneming en arbeid hul ondersoek na die terrein voltooi het.
Verskeie ondersoeke is van stapel gestuur, onder meer deur die Wes-Kaapse regering, die polisie en die departement.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers Chris Spies, sê ‘n geregtelike doodsondersoekdossier is ná die ineenstorting geopen. Die polisie het hul ondersoek by die terrein self afgehandel, voeg hy by.
“ ’n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen ten tyde van die voorval toe die eerste slagoffer uit die puin gehaal is. Dié ondersoek is nog aan die gang. Die ondersoek by die konstruksieterrein is afgehandel.
“Bewyse wat op die terrein versamel is, vorm deel van die voortgesette polisieondersoek. Intussen is al 34 oorledenes formeel uitgeken en die laaste lyk is Maandag aan die naasbestaandes oorhandig,” sê Spies.
Geen tydsraamwerk kon gegee word vir die afhandeling van die ondersoek nie.
Die provinsiale hoofinspekteur vir die departement van indiensneming en arbeid, David Esau, sê dit was nie nodig om voort te gaan met werk by die perseel self nie, en dit is aan die grondeienaar oorhandig.
Hy voeg by dat dit moeilik is om te skat wanneer die departement se ondersoek afgehandel sal wees omdat ondersoekers sukkel om toegang te verkry tot mense wat nog onderhoude moet voer.
“Ons is tans besig met die ondersoek en weens die aantal mense wat ondervra moet word, kan ons geen tydraamwerke aanheg nie.”
Hy sê die departement oorweeg dit om ondersoekbeamptes in dié lande te vra om die mense te besoek, maar hy kan ook versoek dat hulle na Suid-Afrika moet terugkeer.
Wouter Kriel, woordvoerder van die departement van plaaslike regering, sê in dié stadium is geen nuwe inligting beskikbaar oor die ingenieur se ondersoek, wat aan die gang is nie.
Die hoof van kommunikasie by George-munisipaliteit, Chantèl Edwards, sê die munisipaliteit is nie verantwoordelik vir die ondersoek na die oorsaak van die ineenstorting nie en is nie ingelig oor die uitkomste van die kriminele en gesondheid- en veiligheidsondersoeke wat deur die polisie en Arbeidsdepartement onderneem word nie.
Gevra oor appèlle van gemeenskapslede dat die grond ‘n openbare gedenktuin moet word, het ontwikkelaar Neotrend se prokureur, Ryan du Preez, gereageer: “Ons kan bevestig dat daar ‘n samewerkende benadering was tussen alle partye wat by die projek betrokke is en dat hulle werk nou saam om die beste pad vorentoe vir die terrein te bepaal.
“Terwyl spesifieke besonderhede nog gefinaliseer word, gee ons die versekering dat meer inligting mettertyd met die gemeenskap gedeel sal word.”
