In 2019 het Moroadi Cholota, die persoonlike assistant van die voormalige ANC sekretaris-generaal Ace Magashule, met die hele sak patats na vore gekom tydens haar verskyning voor die Kommissie wat ondersoek instel na staatskaping. Haar verklaring was in verband met die onderduimse asbes kontrak wat R225miljoen gekos het. Sy was aanvanklik ‘n getuie, maar het later besluit om nie verder haar samewerking te gee nie. Verlede Vrydag, 7 Junie 2024, het ‘n Distrikshof in die VSA beslis sy mag uitgelewer word aan Suid-Afrika. Sy appelleer teen die bevinding.
Vrydag 14 Junie 2024 is die dag waarop Ace Magashule en 17 medebeskuldigdes in die Bloemfonteinse Hooggeregshof sal verskyn op aanklagte wat voortspruit uit die beweerde korrupsie in ‘n R225m asbes oudit projek.
Magashule, wat sy eie party die African Congress of Transformation gestig het, kan in aanmerking kom om ‘n lid van die parlement in die Vrystaat te word. Dit is nadat sy party 19.7% van die stemme in die onlangse verkiesing verkry het en hulle een setel gewen het in die Vrystaatse provinsiale verkiesing. Sou hy egter skuldig bevind word, sal hy moet bedank uit sy posisie.
Magashule en die ander beskuldigdes, insluitend maatskappye, staan tereg op meer as 70 aanklagte van korrupsie wat verband hou met geldwassery.
Moroadi Cholota, die voormalige persoonlike assistant (PA) van Magashule, staar ten minste vyf aanklagte in die gesig wat verband hou met die asbes projek, onder andere bedrog en korrupsie. Sy is beskuldigde nommer 7 van die asbes verhoor. Sy is op 12 April 2024 in die VSA in hegtenis geneem.
Die ander beskuldigdes in die saak is Edwin Sodi, Nthimotse Mokhesi, Mahlomola Matlaka, Sello Radebe, Adel Kgotso Manyeki, Nozipho Molikoe, Albertus Venter, Margaret-Ann Diedericks en Sarah “Olly” Mlamleli.
Blackhead Consulting, 602 Consulting Solutions, Mastertrade 232, Ori Group en ander besighede staar ook aanklagte in die gesig.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se Mthunzo Mhaga het op Dinsdag, 11 Junie 2024 gesê die NVG verwelkom die besluit deur die VSA se Distrikshof. Hy sê hulle voel gerus oor die staat se saak en sal verseker dat alle bewysstukke tot die saak tydens die verhoor voorgelê word.
Die asbesverhoor moes reeds op 14 April 2024 ‘n aanvang geneem het in die Bloemfonteinse Hooggereghof. Dit is egter onder andere uitgestel omdat Cholota op daardie stadium onder arres in die VSA was. Die saak is uitgestel tot 14 Junie 2024.
Die woordvoerder van die die NVG in die Vrystaat, Mojalefa Sonkoatsane sê die saak is ook uitgestel op versoek van die verdediging.
“Een van die beskuldigdes het nie regsverteenwordiging gehad nie. Sarah Mlamleli was siek en kon ook nie die hofverrigtinge bywoon nie. 14 Junie 2024 sal meer handel oor die gereedheid van die verdediging in die saak en die partye wat ooreen moet kom op ‘n gepaste datum vir die voorverhoor en die amptelike verhoordatum,” het Senokoatsane gesê.
Die kanse is groot dat die saak uitgestel sal word omdat Cholota teen haar uitleweringsbevel appelleer. Die bevinding op 7 Junie 2024 deur regter Erin Aslan van Maryland Distrikhof het die weg gebaan vir Cholota se uitlewering en terugkeer na Suid-Afrika.
Crispin Phiri, woordvoerder vir die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste het Woensdag, 12 Junie 2024 gesê daar is bevind Cholota mag uitgelewer word, sy het die reg om te appelleer of om ‘n voorlegging te maak by die Sekretaris van die Staat in die VSA. Sy het aangedui dat sy gaan appelleer. Sy sal aan Suid-Afrika uitgelewer word sodra die hele proses afgehandel is en daar ‘n uitslag in die guns van Suid-Afrika is.
Volgens haar regsverteenwoordiger Piet Tibane, het sy kliënt gevra vir direkte en dringende toegang tot die Konstitusionele Hof om die bevinding dat sy uitgelewer kan word aan Suid-Afrika, te betwis.
