Die aantal bevestigde gevalle van apokke in Suid-Afrika het tot vier gestyg nadat nog twee gevalle in KwaZulu-Natal aangemeld is.
Volgens die departement van gesondheid is hy deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in kennis gestel van die twee nuwe gevalle wat by hospitale in Durban aangemeld is.
Voorlopige ondersoek dui volgens die departement daarop dat die twee jongste gevalle kontak gehad het met die ander voorheen bevestigde geval in die provinsie, en dit dui daarop dat daar ʼn plaaslike oordrag van die siekte is wat moontlik tot ʼn groter uitbreking in die provinsie kan lei.
Die ander geval is vroeër in Gauteng aangemeld. Al vier pasiënte is mans in hul 30’s.
Die departement doen ʼn beroep op lede van die publiek wat in nabye kontak was met bevestigde of vermeende gevalle om met gesondheidsbeamptes saam te werk en sonder vertraging by die naaste gesondheidsfasiliteit of gesondheidsorgverskaffer aan te meld vir kliniese evaluering om vroeë diagnose en effektiewe behandeling te verseker indien hulle positief toets.
Dit neem gewoonlik tussen ses en 13 dae om simptome te ontwikkel, maar dit kan wissel van vyf tot 21 dae. Simptome sluit onder meer in ʼn uitslag wat vir twee tot vier weke kan aanhou, koors, hoofpyn, spierpyne, rugpyn, lae energie en geswelde kliere.
Volgens die departement is daar geen rede tot paniek nie en is die situasie onder beheer.
