Na ʼn relatief droeër en warmer Mei, het die eerste bibberweer oor groot dele van die land begin voorkom.
Ondanks sneeu wat reeds op sekere plekke geval het, wink daar steeds ʼn warmer winter, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).
ʼn Afsny-laagdrukstelsel word vir tot Dinsdag oor die westelike en suidelike dele van die land voorspel.
Volgens Wayne Venter, ʼn weervoorspeller by die weerdiens, word afsny-laagdrukstelsels oor die algemeen geassosieer met wydverspreide reënval, sneeuval, sterk tot stormsterk winde en rowwe seetoestande in die wintermaande.
Die kwik het oor die naweek reeds begin daal en die eerste sneeu is in Lesotho en dele van die Drakensberg aangeteken.
Koue temperature met ʼn maksimum van 17 °C word vir Maandag oor die westelike en suidelike dele van die land verwag. Dit sluit die Vrystaat, Wes-Transvaal, Sentraal-Transvaal, die Hoëveld van die Oos-Transvaal en die binneland van Natal in.
