Saamgestel deur dr. Jann Schlebusch
Eenheid kan op een van twee maniere verkry word: Eenheid deur gesagsuitoefening of eenheid deur eensgesindheid. Eenvoudig gestel is eenheid deur gesag gedwonge; en eenheid deur eensgesindheid vrywillig. In die praktyk is dit egter nie net die een of die ander nie. Eenheid verg gewoonlik ‘n kombinasie van eensgesindheid en ‘n gesagstruktuur. Kom ons kyk na albei hierdie aspekte van eenheid
Eensgesindheid kan net verkry word met ‘n gemeenskaplike beginselbasis; ‘n gemeenskaplike lewens- en wêreldbeskouing. Dit geld vir enige samelewing of groep.
Volkskrag se doel is ook om gemeenskaplike beginselbasis te skep in die Boere-Afrikaner Volk.
Kom ons kyk na die bekendste en mees basiese samelewingsverband: die huisgesin. Waar die ouers dieselfde lewens- en wêreldbeskouing deel, is daar harmonie en eensgesindheid. Tog moet daar steeds ‘n gesagstruktuur wees wat eenheid afdwing op die kinders en in gevalle waar ouers verskil oor belangrike besluite soos na watter skool moet die kinders gaan?
Dit lyk dus asof eensgesindheid noodsaaklik is as basis van eenheid, maar ‘n gesagstruktuur is ook nodig om die eenheid in stand te hou. Kom ons toets hierdie hipotese met ander samelewingsverbande:
‘n Sake-onderneming moet bv ook as ‘n eenheid funksioneer. Die onderneming moet ‘n duidelike doel hê wat deur bestuur en personeel nagestreef moet word. Daaroor moet minstens eensgesindheid by die bestuur wees, maar by die werkers kan die eenheid afgedwing word.
Dit geld ook vir ‘n kerk. In die NGB art 29 leer ons dat die ware kerk op drie bene staan: Suiwer Woordverkondiging; Suiwer bediening van die sakramente; en die handhawing van die Kerklike tug. Ons leer ook in 2Tim 4:2 “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering”;
En in 2Kor_13:11 Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.
Dit geld ook vir ‘n volk. ‘n Volk se kultuur is gebaseer op ‘n lewensbeskouing. Ons volk se lewensbeskouing was Christelik-Gereformeerd. Om te verduidelik wat bedoel word met Christelik-gereformeerd, moet ons sê Christelik-volkseie (of Christelik-nasionaal), want die hoofstroom, sogenaamd gereformeerde kerke is nie meer gereformeerd nie, maar eerder humanisties-liberaal. Ons volk het egter afvallig geraak van die suiwer, Bybelse leer en, in navolging van die sekulêre invloed van die media en die gedienstigheid van die kerke, het ons volk nou ‘n humanisties-individualistiese lewensbeskouing – tot dié mate dat die meeste van ons volksgenote nie meer waarde heg aan volkskap nie en hulle aanvaar die duiwelse multikulturele globalisme as ‘n gegewe. Waar ons voorheen ons eenheid in die volk gevind het, vind ons nou eenheid in die staat van Suid-Afrika. ‘n duidelike bevestiging hiervan is dat gebedsversoeke op sosiale media deurgaans vir ‘Suid-Afrika’ is en nie vir ons volk nie. Deur die genade van ons Here is daar egter ‘n toenemende verset teen hierdie Marxistiese agenda van multikulturele globalisme.
Teenoor die Marxisme – en teenoor humanisme oor die algemeen, staan God se Verbond. Hiervolgens is huisgesinne en volke God se verbondstrukture waarbinne die Christendom gekoester moet word.
Die hele Ou Testament handel oor God se Verbond en hoe Israel as Verbondsvolk moet optree – en nie moet optree nie! Hierdie Verbondsopdrag is, soos dikwels geprofeteer, in die Nuwe Testament uitgebrei na ander, heidense volke (Mt 21:33-43; Mt 28:19; Hd 15:13-17; 17:26,27; Rom 10 en Rom 11). Let daarop dat die fokus van die Nuwe Testament die heidense volke is, en nie individuele heidene nie.
In Hd 17:26,27 sê die Here uitdruklik waarom Hy die volke van mekaar geskei het en vir hulle grense gestel het: sodat ons Hom as volke moet soek! Ons is dus geroepe om God in volksverband te soek en te dien
Die duiwel is sedert die toring van Babel besig om volkskap te probeer vernietig met imperialisme. Sedert die 18e eeu is hierdie aanval op God se Verbondstrukture weer verskerp – en die vernietiging van Christen-nasionalisme was die hoofdoel van die Franse Rewolusie; die Russiese Rewolusie, WO1 en WO2. Dit is ook die hoofdoel van die Marxisme en die ‘WOKE’-agenda.
Die Verbondstruktuur wat God verordineer het waarbinne ons eenheid moet soek, is dus die volk – en nie die staat nie.
Hoe gaan ons hierdie gruwel regstel? Hoe gaan ons ons volk red van vernietiging?
- Eerstens moet ons besef dat God [JHWH] almagtig is en alles gebeur soos Hy bepaal op die presiese tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Dit moet ons perspektief op vryheidstryd bepaal. Ons moet ywer vir eensgesindheid, maar ons moet moet besef dat die resultaat van ons Here afhang; Ons moet ywer vir vryheid, maar ons moet besef dat die resultaat van die Here afhang – soos koning Dawid se perspektief toe hy Goliat aangedurf het. Die spreekwoord: ‘Eendrag maak mag’ moet ook binne hierdie konteks verstaan word: As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou. Menslik gesproke is volkseenheid in elk geval nie ‘n realistiese moontlikheid nie. Dit sal net kan gebeur as God self dit in ons volksgenote se harte werk (1 Kor 3:6,7)
- Tweedens moet ons verstaan dat God se Verbondsbeloftes nog vir ons geld. Soos wat Hy in Dt 28 en baie ander plekke beloof, straf Hy ons volk met die verdrukking deur hierdie vreemde oorheersing: as ons dan nie aan die Heerskappy van Christus (dit beteken gehoorsaamheid aan die Wet van God) wil onderwerp nie, dan onderwerp Hy ons aan vreemde oorheersing en verdrukking.
- Derdens moet die einddoel van ons vryheidstryd wees om ‘n Godvererende volkshuishouding op te rig. Nooit mag ons afwyk van hierdie doel nie. Ons mag nooit toelaat dat iemand ons van koers af bring met ‘n mensgerigte doel nie. As ons sê ons stry die stryd vir die toekoms van ons kinders, moet dit steeds wees sodat hulle ‘n Godvresende volkshuishouding tot Gods eer sal wees – soos ons voorouers by Bloedrivier beloof het. Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!
- Verder moet ons Volkskrag die volkskern nader en bymekaar bring: nie almal nie – net dié wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort – soos Dr Malan gesê het. Ons moet nie ‘gemeenskaplike grond’ soek om eensgesindheid te probeer kry nie. Getalle is nie vir God belangrik nie, maar dat ons Hom in Gees en Waarheid met ‘n eenparige skouer dien.
- Ons moet dus eensgesindheid kry onder daardie deel van die volkskern wat ontvanklik is vir hierdie Bybelse belydenis en lewens- en wêreldbeskouing.
- Met hierdie eensgesindheid as basis, moet ons dan deur die betrokke organisasies en aksies, sowel as deur die sosiale media die volk deursuur met hierdie herstelde lewensbeskouing doelgerigte aksies.
- Ons moet ook seker maak dat ons volk se ampsdraers die lewensbeskouing deel, want hulle moet uiteindelik die gesag voer in gehoorsaamheid aan Koning Jesus en toesien dat die Christelik-volkseie lewensbeskouing nie weer ondermyn word nie. Wanneer ons Vader weer aan ons volk vryheid skenk, moet hulle ook ook wette maak volgens Bybelse riglyne.
- Omdat geen mens se hart vertrou kan word nie, moet ons gedurig in ootmoed voor ons Here nader sodat ons in Hom kan bly (Jer 17:9; Job 15:16; Spr 28:26; Jak 1:14,15; Jn 15)
- Daarom moet ons ook die Here se beslissing vra om ampsdraers aan te wys en wanneer lotbepalende besluite geneem moet word (Hd 1:24).
- JA ons as Volkskrag glo dat EENHEID moontlik is en dit as een van ons hoofdoelwitte stel.Ons as Volk moet glo en werk aan eenheid tussen ons mense.Dit sal vergemaklik word as die EIE EK in die asblik gegooi word en samewerking van natuur aansteeklik sal word.
- Volkskrag glo ook dat EENHEID ons volk se resep is vir oorlewing in die land en Selfbeskikking met die grootste ywerigheid en vasbeslotenheid aangepak word saam met almal wat regdenkend is.
