’n Huishulp is in hegtenis geneem nadat sy na bewering ’n sewe maande oue baba ontvoer en die baba in ’n vakansiehuis in Tongaat-strand versteek het waar sy voorheen gewerk het.
Die beskuldigde (38) het op 1 Mei met die baba verdwyn van waar sy gewerk het.
Sy is die volgende dag in die Seatides-gebied in Tongaat-strand opgespoor en gearresteer.
Ilembe Cluster-polisiewoordvoerder, kaptein Alex Thomson, beweer dat die beskuldigde ook die baba se besittings en dokumentasie gevat het toe sy die kind ontvoer het.
“Die saak is by Umhlali SAPD aangemeld en ‘n dossier is na die Ilembe Distrik FCS-eenheid oorgeplaas vir ondersoek. Tydens die ondersoek is inligting ontvang dat die verdagte met ‘n baba op ‘n afgeleë plek in Seatides opgemerk is,” het Thomson gesê.
“Lede van die FCS-eenheid, saam met die distriks taakspan en misdaadintelligensie, het dadelik gereageer en die baba suksesvol gered, wat tot die verdagte se arrestasie gelei het.
“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die verdagte die baba by ‘n vakansiehuis in ‘n afgesonderde area waar sy voorheen werksaam was, versteek het en toegang tot die eiendom behou het. Die baba is veilig met die ma herenig,” het hy gesê.
Die huishulp het in die hof verskyn en is Maandag borgtog deur die KwaDukuza-landdroshof geweier.
