Die e-vervoerdiens Bolt sê hulle het ‘n bestuurder onmiddellik van die platform geblokkeer nadat hy na bewering twee vroulike passasiers tydens ‘n woordewisseling in Kaapstad gesteek het.
Die bestuurder was die naweek besig om vroue in Table View te vervoer toe hulle ‘n stryery gehad het oor waar hulle afgelaai sou word.
Die niewinsorganisasie Women for Change het gesê die bestuurder het na bewering een van sy kliënte in die passasiersitplek begin slaan. Die vroue het gevlug toe die bestuurder stilhou. Hy het hulle egter te voet agternagesit en na bewering twee van hulle gesteek en gewond.
’n Foto wat op sosiale media gedeel is, wys twee vroue op die grond, een met ’n gapende wond op haar rug.
Bolt het bevestig dat hy bewus is van die beweerde voorval en het dit Dinsdag as “heeltemal onaanvaarbaar” beskryf.
“Toe ons van die voorval verneem het, het ons dadelik opgetree om die bestuurder van die platform te blokkeer terwyl ‘n deeglike ondersoek gedoen word. Die veiligheid en welstand van ons passasiers is ons topprioriteite, en ons duld geen gedrag wat hul veiligheid of sekuriteit in gevaar stel nie,” het Sandra Buyole, PR-bestuurder by Bolt, gesê.
“Bolt sal ten volle met die polisie-ondersoek saamwerk en enige moontlike inligting verskaf wat tot ’n arrestasie en skuldigbevinding van die oortreder/s kan lei.
“Bolt het altyd, en sal altyd, elke geval van geweld veroordeel, maak nie saak waar of wanneer dit plaasvind nie, want dit verraai almal se hoop op ‘n veilige Suid-Afrika waar almal vrylik kan rondbeweeg, ongeag hul ligging of tyd van dag of nag.”
