Derek Mathews ernstig beseer na hy van leer af val

Derek Mathews, bekende boer van Sannieshof in Noordwes en voormalige voorsitter van Graan SA, is in ’n ernstige maar stabiele toestand in ’n Johannesburgse hospitaal ná hy oor die naweek van ’n leer af geval het.

Mathews is met onder meer bloeding op die brein in die Milpark hospitaal in Johannesburg opgeneem ná hy laat Saterdagmiddag van ’n leer af geval het by sy huis op die plaas Silverton. Hy wou ’n pyp van ’n stofsuier van die dak af haal wat byevangers gebruik het om ’n byenes uit die dak te verwyder, verduidelik Jenny Mathews, eggenote van Derek se neef, John.

Jenny verduidelik dat Derek met beide hande besig was om die pyp af te haal, en dus kon hy nie goed met sy hande keer toe hy geval het nie. “Karin (Derek se eggenote) was besig om op die rekenaar te werk toe sy ’n harde geluid buite hoor, en toe kom sy op Derek af.”

Karin het hulp ontbied. John het haar onder meer bygestaan. Derek se kopwonde het baie gebloei.

Derek het twee frakture in sy skedel, sy sleutelbeen en van sy ribbes is gebreek een van sy gebreekte ribbes het in een van sy longe gesteek. Die bloeding op die brein het intussen gestop en volgens Karin is Derek Maandagoggend wakker en minder deurmekaar as Sondag. Sy toestand word as ernstig maar stabiel beskryf.

“ ’n Redelik lang herstelreis lê vir hom voor,” sê Jenny.

Mathews het verlede week aan Landbou.com gesê hy is opgewonde oor die oes wat op die lande is en het genoem dat ’n tydperk van sonskyn hulle baie sal help met oestyd. Hy het teen verlede week reeds sy sonneblom klaar gestroop en het begin om sojabone te stroop. Hy moet ook nog grondbone en mielies stroop.

Jenny sê Derek se seun, Michael, sal vir eers voortgaan om oestyd op die plaas te behartig.

Landbou.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui