‘n Dramatiese voorval het by ‘n brandstofvragmotormaatskappy in Hillcrest, Benoni, afgespeel, waar twee tenkers (kajuit met sy sleepwa) en een addisionele sleepwa aan die brand geslaan het ná ‘n sweisoperasie wat gevaarlik skeefgeloop het.
Die tenkers was met onderskeidelik 40 000 liter en 15 000 liter brandstof gevul. ‘n Ander tenker was leeg, maar dampontploffing het dié tenker ook in gevaar gestel. Die onverantwoordelike, gevaarlike sweiswerk wat gedoen is te midde van die groot risiko’s daaraan verbonde, het die brandweer se dienste genoodsaak.
“Die brand is glo veroorsaak deur sweiswerke aan een van die vragmotors, wat vonke uitgestuur het wat nabygeleë voertuie aan die brand gesteek het,” het Ekurhuleni Noodbestuursdienste se woordvoerder, William Ntladi, gesê.
Twintig brandbestryders van vier verskillende brandweerstasies het hul pogings saamgevoeg en skuim as ‘n blusmiddel gebruik om die petroleum se wisselvalligheid te versag. Hul gesamentlike pogings het verseker dat die brand binne ‘n paar uur onder beheer gebring is.
Ntladi het gesê geen ongevalle is op die toneel aangemeld nie, maar die teenwoordigheid van verskeie vragmotors en brandstoftenks in die maatskappy se erf plaas nabygeleë besighede op verhoogde risiko.
Hy het bygevoeg dat die vinnige reaksie en doeltreffende optrede deur die brandbestryders voorkom het dat ‘n katastrofiese gebeurtenis in die besige nywerheidsektor van Ekurhuleni afgeweer is.
Brandveiligheidsbeamptes het die voorval verder ondersoek om die volle omstandighede rondom die brand te bepaal.
Interne ondersoeke of die nodige veiligheidsmaatreëls in plek was én noukeurig nagekom is, sal ook ondersoek moet word.
Departement Arbeid moet ook in kennis gestel word sodat hulle ‘n ondersoek kan loods.

