Nat of droog, dié mieliebasters van Pannar presteer goed

Die Van der Hoffs van Noordwes plant net basters van Pannar, wat hulle al met sukses deur nat én droë jare gedra het en goeie opbrengste lewer.

Die sesde geslag Van der Hoffs boer tans op die plaas Doornfontein by Coligny, met pa en seun wat saamboer. Pieter sê hy het van 1987 tot 2008 saam met sy pa, Koos, geboer.

“Nou boer ek saam met my seun, Cobus, wat sowat 14 jaar gelede heeltyds by die boerdery aangesluit het.”

“Ek boer eintlik al vandat ek kan onthou,” sê Cobus. En Cobus se seun, Janu, wat skaars kniehoogte is, loop al saam in die mielielande. Die Van der Hoffs boer nog al die jare met skape, beeste en mielies. Deesdae bestaan hul vertakkings uit wit- en geelmielies, sonneblomme, grondbone, koring, wild, skape (SA Vleismerino’s en Dorpers) en beeste (Beefmasters). Pieter se vrou, Adele, is in beheer van die bees en skaapboerdery.

Sowat 120 hektaar van die saaiboerdery is onder besproeiing, waar hulle mielies met koring afwissel. Op droëland plant hulle sowat 800 hektaar mielies, afgewissel met sonneblomme.

Goeie inligting uit proewe Pieter sê hulle plant net Pannar se saad. “Dit is wat werk vir ons grond.”

Cobus vertel hulle het in die verlede proewe geplant en Pannar het elke keer bo uitgekom.

“Jy kan ’n baster van Pannar op ’n teerpad plant en dit sal opkom,” sê hy laggend.

Hy sê die Pannar Extravaganza wat jaarliks by Biesiesvlei gehou word, is vir hulle baie belangrik. “Daar kry ons ’n baie goeie idee van wat hier by ons werk, want dit is reg op ons voorstoep.”

Jacques Lubbe, Pannar se verteenwoordiger in die Coligny-omgewing, sê talle impakproewe word in ’n omtrek van 15 km van die Van der Hoffs se plaas geplant. Hy het dus vyf jaar se data tot sy beskikking. Dié data kan opgedeel word in drie jaar se Corteva-impakproewe en twee jaar se Pannar-produkplasings en P3-data.

Volgens Pieter is daardie data vir hulle baie belangrik, want dan weet hulle wat Jacques Lubbe aanbeveel, gaan werk. Die Van der Hoffs plant tans die geelmieliebaster PAN 4R-838BR en die witmieliebaster PAN 5P-955PW.

“Albei basters wat ons plant, is meer droogtebestand, want hier by ons knyp die droogte soms. In nat jare is hulle weer uitskieters. Op droëland het ons al in ’n nat jaar 11 t/ha gestroop,” sê Cobus.

“Onder besproeiing presteer veral die baster PAN 4R-838BR baie goed en ons haal 12 t/ha tot 14 t/ha af.”

Cobus sê dié baster werk vir hulle goed onder besproeiing omdat dit min materiaal het.

“Die lug vloei beter deur die plante en swamme groei dus nie maklik nie. Dit stroop ook makliker.”

Volgens Cobus help die bewerking en vogbestuur wat hulle toepas ook dat hulle baie goeie opbrengste met Pannar se basters behaal.

“Ons deel ons lande in derdes op en wissel die bewerking af. Ons ploeg met ander woorde ’n derde. Gewoonlik word die deel wat daardie jaar kalk kry, geploeg om dit mooi in te werk. Dan beitel ons ’n derde en rip (diep skeurploegbewerking) die ander derde. Die grond word dus elke derde jaar gerip.”

Hulle doen nie voorbereiding van die saadbedding wanneer hulle klaar gebeitel het nie.

“Ons spuit net skoon en roer nie weer die grond nie. Die stoppels bly bo lê, wat die temperatuur laat daal. Die sand hier word baie warm.”

Wat sonneblomme betref, plant hulle PAN 7160CLP en PAN 7180CLP van Pannar. PAN 7160CLP is veral goed om die risiko van Sclerotinia te bestuur. “Al die plante blom nie gelyk nie. Dit help dat Sclerotinia nie die hele land besmet nie,” sê Pieter.

Jacques sê PAN 7180CLP is weer ’n toppresteerder wanneer dit by opbrengs kom.

Waardevolle samewerking

So met die gesels tussen Jacques, Cobus en Pieter is dit duidelik dat Pannar se verteenwoordiger en die boere baie nou saamwerk op Doornfontein.

“Die mense van Pannar is daar wanneer jy hulle nodig het. Ons kan Jacques Lubbe of Corné van der Westhuizen (landboukundige) enige tyd bel,” sê Cobus.

Jacques beskryf sy verhouding met Cobus en Pieter as iets wat nader aan vriendskap is as besigheid.

“Dit is altyd lekker om hier te kom. Die praktyke wat hulle beoefen, werk goed en die mielies lyk altyd mooi.

“Ek merk ook die dinamika tussen oom Piet en Cobus op, en dis lekker om te sien hoe hulle saamwerk.”

Landbou.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui